NWF bars van trots op Ester
By vandeesweek se 2026 Senior Wêreldstoeikampioenskap in Astana, Kazakstan, het Ester Abraham geskiedenis gemaak as die eerste vrou wat Namibië by dié geleentheid verteenwoordig het. In haar openingsgeveg (die kwarteindrondte) van die 62 kg vrystylafdeling kon sy egter Woensdag nie by haar opponent Bilyana Zhivkova Dudova van Bulgarye verbykom nie. Hoewel sy deur ‘n meer ervare opponent uitgeskakel is, bly Abraham se deelname as enigste verteenwoordiger van die Namibiese Stoeifederasie ‘n bron van trots. Abraham het ‘n puik jaar beleef, wat twee silwermedaljes by die 2026 kontinentale Afrika-kampioenskappe ingesluit het. Namens die Stoeifederasie (NWF) sê hul skakelbeampte Anke Erasmus: “Ons groter fokus (vir haar) in hierdie stadium is internasionale blootstelling en kompetisie op internasionale vlak, wat 'n groot wen en deurbraak vir haar is. Ester is ‘n beurshouer van Olimpiese Solidariteit en alle blootstelling, oefenkampe en kompetisies tel as langtermyn voorbereiding vir Olimpiese kwalifikasie.” Abraham is binnekort ook ‘n finalis as Namibiese sportvrou van die jaar, waar haar prestasies teen Cherné Scheepers (gemengde gevegskuns) en Mischa Monique Araes (boks) opgeweeg sal word.



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article