Commins en Hossam vier ook seges in Windhoek
Muurbal
Die blootstelling wat die PSA BDO Namibiese Ope muurbalkampioenskap van afgelope Dinsdag tot Saterdag vir die plaaslike spel gebied het, was beslis ‘n positiewe inspuiting.Vanaf die kwart- en halfeindstryde tot en met die finaal het die buitelandse professionele PSA-manspelers hoogs aangrypende kragmetings by die Wanderers-bane gelewer, voordat Dewald van Niekerk van Suid-Afrika met die titel weggestap het deur Aly Tolba van Egipte in drie stelle te klop.
Die wenners van die ander afdelings was soos volg:
Vroue A-afdeling: Alexa Commins van Suid-Afrika klop haar landgenoot Shelomi Truter 11-4, 11-1, 11-3 in die eindstryd. As heersende SA kampioen was Commins eerste gekeur en Truter derde. Ná Dené van Zyl (RSA; derde) was Carla Nortjé (Wanderers) die hoogste van die Namibiese vroue geplaas, voor Lida-Marie Calitz en Charne Fourie.
Mans A-afdeling: In die eindstryd het Hazem Hossam van Egipte met 7-11, 3-11, 6-11 teen Sam Gerrits van Nederland gewen. Voor die toernooi was Gerrits eerste gekeur en Hossam ongekeurd. Blessing Muhwati van Zimbabwe het sterk afgesluit deur die bronsposisie voor Johan Anderson van Johannesburg op te raap.
Mans B-afdeling: Louw Greyvenstein klop sy Wanderers-klubmaat Archie Botha in vyf stelle met 11-9, 7-11, 11-13, 12-10, 9-11 (46 minute).
Mans C-afdeling: Tim Lux klop Burger van Niekerk met drie stelle teen een. Beide is van Wanderers-muurbalklub.
Mans D-afdeling: Sven von Lieres kry met 4-11, 5-11, 8-11 (18 minute) die oorhand teen Alvin Louw.
Vroue B-afdeling: Kirsten Brits wen in vier stelle (3-11, 12-10, 10-12, 2-11) teen haar 12-jarige Wanderers-klubmaat Annabelle Knott.
Gemengde afdeling: Hein Diedericks wen in drie stelle (4-11, 4-11, 6-11) teen Liezel de Beer.



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article