Moria eindig in stewige derde posisie

Skolerugby
Andrew Poolman
Drie wedstryde laas Saterdag het die Namibiese Hoërskolerugby­vereniging (NSSR) se o.19 premierligaseisoen vir 2025 afgesluit.



Die mees bepalende stryd was op Outjo se Doringlaagte-veld, waar OK Foods Moria sy buurdorp se span Compack Tsumeb Gimnasium ’n groot guns bewys het, deur met ’n oorwinning (34-18) teen Namib Diesel Walvisbaai Privaatskool te verhinder dat laasgenoemde in die topvier eindig deur vir Tsumeb verby te steek.



Die samestelling vir komende naweek se semifinale is dus bevestig, met die onoorwonne voor­loper Samsung Windhoek Hoërskool wat teen Tsumeb sal uitdraf, terwyl King Price Windhoek Gimnasium teen Moria speel vir die voorreg om na die eindstryd te vorder.



Walvisbaai was deeglik bewus van die taak voor hulle om ’n plek in die semifinaal te probeer opspeel, maar Moria het hulle uitendelik beperk tot drie drieë (skrumskakel Christopher Coetsee, agtsteman Dylan Erasmus en senter Lian Kitler) en een strafdoel deur heelagter Adriaan Boonzaaier.



Op ’n heuglike dag vir afrigters Reino du Toit en TW Koorts se Moria-span is hul drieë deur flank Keyo Kruger (2), binnesenter Jano Erasmus, vleuels Drikus Maartens en Ruan Brand asook die buite­senter en kaptein Franko Engelbrecht gedruk. Net twee van Jano Erasmus se doelskoppe het geslaag.



Walvisbaai se eindtotaal van 49 ligapunte was uiteindelik nie genoeg om in die geselskap van Tsumeb Gimnasium (52), Moria (59) en WHS (72) te bly nie.



WHS-REKORD BLY FOUTLOOS



WHS – heersende kampioen – het sy ligaseisoen met ’n perfekte 72 punte ná agt wedstryde afgesluit. Die WHS Koedoebulle was Saterdag met 50-20 te sterk in sy wegwedstryd teen De Duinesig op Walvisbaai.



Die WHS-losskakel Mc-Rein van Wyk het ’n besige wedstryd gehad met twee drieë, ses doelskoppe en ’n skepdoel, vir ’n totaal van 21 punte. Die wenspan se ander driedrukkers was slot Praise Kamonga, die flank en kaptein Pieter-Jan Strydom en senters Ethen Sinden en Ignatius Kandowa.



GIMNASIUM SE VYFTIGTAL



Op Swakopmund het Windhoek Gimnasium met 53-8 teen InSpares Pro-Ed Akademie aan die wenkant geëindig.



Gimnasium het sake oorheers met drieë deur regtervleuel Oliver Seager (2), buitesenter Pieter-Stephann Stassen (2), linkervleuel Hanré Cocklin (2), vaskopstut Gert Pretorius en die plaasvervanger-haker DJ Gous. Die senter JD Jankowitz het met vyf doelskoppe en een strafdoel geslaag.



• Puntestand en uitslae by www.rugby.my.na/