Ernstige besigheid begin op Eagles-toer
Krieket
Namibië sal op die toer twee internasionale eendagwedstryde elk teen Kanada en Skotland speel.
Op hul eerste toer vandat Craig Williams as die nasionale afrigter by Pierre de Bruyn oorgeneem het, speel die FNB Eagles vandag in King City noord van Toronto teen die gasheerspan Kanada in die openingswedstryd van die driehoekige toernooi wat ook vir Skotland insluit.Die toer is deel van die 2024-2026 ICC Krieketwêreldbeker Liga Twee-reeks (CWCL2), wat deel van die lang pad na kwalifisering vir die 2027 ICC Wêreldbeker in die eendagformaat vorm.
Kaptein Gerhard Erasmus en sy manne is ietwat onder druk in hul oorblywende wedstryde in die reeks en sal bitter graag wenpunte wil insamel om hul huidige sesde posisie uit die agt spanne te begin verbeter. ’n Eindposisie in die topvier sal beteken dat hulle ’n ekstra uitdungeleentheid voor die finale kwalifiserende toernooi kan misloop.
In die komende driehoekige reeks word Namibië (sesde met 14 punte ná 20 wedstryde; sewe gewen) opgeweeg teen Kanada (vyfde met 20 punte ná 20 wedstryde; nege gewen) en die gunsteling Skotland (derde met 24 punte ná 20 wedstryde; elf gewen).
Op die CWCL2 se algehele lys het die Eagles se draaibouler Bernard Scholtz tans die tweede meeste paaltjies (36 in 20 wedstryde; beste 5/22). Kanada se boulaanval word gelei deur die naatbouler Dillon Heyliger (35 paaltjies in 18 wedstryde).
OPWARMING
Sedert hul aankoms het die Namibiërs in die afgelope week drie opwarmwedstryde teen Kanada se A-span gespeel en elk van die drie gewen. In wedstryd 2 was Gerhard Erasmus se honderdtal (110 van 124 balle) ’n hoogtepunt wat deur Bernard Scholtz se merkwaardige ses paaltjies vir net vier lopies in ses boulbeurte opgevolg is.
In wedstryd 3 afgelope Vrydag het Namibië (242/8 in 50 bb) opnuut te veel skietgoed vir Kanada se naasbestes (109 almal uit) gehad. Ruben Trumpelmann het vier paaltjies vir 21 lopies in vier boulbeurte geneem.
NUWELING
Die enigste nuweling op die Namibiese toer is Willem (WP) Myburgh, ’n topordekolwer en regterarm-draaibalbouler.
Die 24-jarige Myburgh is op Springs oos van Johannesburg gebore en het daar by Laerskool Christiaan Beyers begin skoolgaan. Dwarsdeur sy laer- en hoërskoolloopbaan (by E.W. Jansen) het hy provinsiale skolekrieket vanaf o.11-vlak tot o.19 Khaya Majola-week gespeel.
Sy eersterangse debuut vir Oostelikes was in Maart vanjaar in ’n vierdaagse wedstryd teen SWD in Benoni.
Te danke aan sy ma wat in Namibië gebore is, het Myburgh vir burgerskap en vir die nasionale span gekwalifiseer. Sy eerste proeflopie vir die FNB Eagles was in Junie vanjaar toe die Assam-krieketstreek van Indië hier getoer het. Myburgh het dadelik sy hand opgesteek deur die meeste lopies van die Namibiese kolwers in die vier eendagwedstryde aan te teken (238; gemiddeld 79.3; kolftempo 69.8), wat kolfbeurte van 113 (135 balle) en 88 nie uit nie (135 balle) ingesluit het.
As veelsydige speler het hy op die eerste twee naweke van Augustus ook tydens die Franchise T20-reeks sy kant vir die wenspan (NPL Bears) gebring (altesame 166 lopies van 136 balle).
NAMIBIë spelersgroep
Gerhard Erasmus (kaptein), Nicol Loftie-Eaton (onderkaptein), JC Balt, Jack Brassell, Jan-Izak de Villiers, Jan Frylinck, Zane Green (paaltjiewagter), Jean-Pierre Kotze (paaltjiewagter), Malan Kruger, Dylan Leicher, Tangeni Lungameni, Willem Myburgh, Bernard Scholtz, Ben Shikongo, JJ Smit, Ruben Trumpelmann
KANADA spelersgroep
Nicholas Kirton (kaptein), Shahid Ahmadzai, Dilpreet Bajwa, Mansab Gill, Dillon Heyliger, Shreyas Movva (paaltjiewagter), Ali Nadeem (paaltjiewagter), Kanwarpal Tathgur (paaltjiewagter), Saad Bin Zafar, Yuvraj Samra, Kaleem Sana, Shivam Sharma, Jaskaran Singh, Pargat Singh, Harsh Thaker.
Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article