Zim o.18 gryp sy kanse beter aan
Skolerugby
Die Namibiese skolerugbyspan keer terug met ‘n vertoningslys van een gewen en twee verloor by die pas afgelope o.18 Akademieweek in Mpumalanga.Die span onder kapteinskap van die slot/agtsteman Vincent Scholtz (Windhoek Gimnasium) het Vrydagoggend op die Hoërskool Middelburg se C-veld met 26-36 teen Zimbabwe verloor in een van die min wedstryde wat nie regstreeks uitgesaai is nie.
Zimbabwe het verlede jaar ook op hierdie ouderdomsweek met 31-28 die knoop deurgehaak, in ‘n besonder suksesvolle jaar wat vir die buurland seges teen Namibië op senior toetsvlak, by die Rugby Afrika o.21 Barthes-toernooi én die o.13 Cravenweek opgelewer het.
Die Namibiërs kon Vrydagoggend net twee drieë druk, naamlik deur die WHS-vleuel Ethan Sinden en WHS-flank Pieter-Jan Strydom. Heelagter William Beuke (WHS) het beide verdoel, terwyl senter JD Jankowitz (Windhoek Gimnasium) met drie strafdoele geslaag het en Mc-Rein van Wyk (WHS-losskakel) met een strafdoel.
Afrigter Herman Grobler sê foute en individuele besluitneming het die Namibiërs in die voet geskiet, veral wat verdediging in die middelveld betref.
“Ons skrums en lynstane en dryfspel en beskerming van losskrumbesit was briljant; ons het hulle fisiek gedomineer.
“Met die bal in die hand het ons hulle onder druk geplaas, maar besluitneming het ons vyf drieë gekos. Een keer het ons drie manne aan die regterkant oop gehad, maar toe die bal na links gespeel; ‘n ander keer besluit om self te hardloop waar ons sou gaan druk het as die bal deur die hande beweeg het. Nog ‘n slag moes ons net in ons patroon gebly het met ‘n optel-en-dryfbeweging op hul doellyn, maar is toe gestraf vir obstruksie.
“So agt minute voor rustyd was ons met 5-22 agter, maar ons het rustyd op 20-22 gedraai. In die tweede helfte het ons ook vlamgevat en met twee strafskoppe die voortou geneem, maar toe verloor ons die bal in kontak en staan weer ‘n drie af.
“Met verkeerde besluite in ag geneem, het die tyd ons uiteindelik ingehaal om die laaste drieë te jaag om die knoop deur te haak.
“Een uit drie is bietjie van ‘n hartseer saak. Ons het genoeg kanse gehad om drie uit drie te wen, maar ons het dit nie benut nie.
“Fisiek staan ons voorspelers vir niemand terug nie, wat ook die terugvoering van die opponerende spanne is. Die Valke het hulle swaarder pak opgesit en het nie geweet hoe ons dit regkry om hulle te domineer nie. Zimbabwe en die LSEN-span het ook nie voorlangs antwoorde teen ons gehad nie, maar nou ja. Klein foutjies het tot ons uiteindelike uitslae bygedra.”
Skoleliga
Ná afloop van die skoolvakansie verskuif die aandag haastig terug na die NSSR-ligas. In die o.19 premierliga is komende Saterdag se bepalings soos volg:
By Windhoek Gimnasium Lions Den: King Price Windhoek Gimnasium tn Farmstyle Elnatan.
Op Swakopmund: PSG Pro-Ed Akademie tn OK Foods Moria.
Op Tsumeb: Compack Tsumeb Gimnasium tn De Duinesig.
By FNB WHS Vegkop: Samsung WHS tn Autohaus Windhoek Affies.
Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article