Wanderers volg wenresep vir ligatriomf teen Kudus
Die “normale orde” is herstel toe FNB Wanderers vir die 34ste keer in sy 106 bestaansjare sedert 1920 die alleenhouer van die titel as die land se nasionale kampioenrugbyklub geword het.
Wanderers het in die eindstryd van die Namibië Rugbyunie se premierliga ‘n oorwinning met 52-27 teen die vorige jaar se wenner FNB Kudus in die Hage Geingob-stadion beklink, nadat die Wit Hingste rustyd met 21-17 voorgeloop het.
Nadat die Walvisbaaise klub verlede jaar vir die eerste keer in sy bestaan (sedert 1961) die eindstryd van die premierliga gehaal en ‘n onvergeetlike triomf met 50-32 bewerkstellig het, het Kudus vanjaar opnuut groot moeite gedoen om spelers van kaliber te werf en opnuut ‘n groot aanslag te lewer.
Die teenwoordigheid van hul beduidende reisende “Blue Army”-getalle op die pawiljoene maak menige opponerende klub jaloers – maar sommige ondersteuners se antagonistiese ingesteldheid en eiesoortige siening van sportmangees het ongetwyfeld as ekstra motivering vir Wanderers gedien om ‘n jaar later sake reg te stel.
Sedert Saterdagaand het spotters op sosiale media duidelik laat blyk hulle put genot daaruit dat die skoen aan die ander voet is – veral na aanleiding van Kudus se voorliefde die afgelope 12 maande om foto’s van hulself te plaas waar hulle met wysvinger voor die mond ‘n boodskap aan die res uitstuur.
Die afrigters Darryl de la Harpe, Rohan Kitshoff en Bakkies Rossouw se insette het vrugte afgewerp om ‘n oorwegend jeugdige Wanderers-spelersgroep van elke demografie saam te snoer in ‘n eenheid wat vanjaar 17 uit 18 wedstryde gewen het. Hul enigste nederlaag in ‘n ligawedstryd op Grootfontein is later in die semifinaal gewreek.
Tydens die trofee-oorhandiging het Wanderers ook ‘n tjek vir N$55 000 as beloning ontvang.
DIE VERLOOP
Wanderers se senior spelers het in sleutelperiodes van die eindstryd na vore getree om leiding te gee in die stelselmatige aftakeling van die kusspan se aanslag.
Losskakel André van der Berg se skopvoet was sekuur ingestel met sy eerste ses doelskoppe suksesvol, voor een regs verby was en sy laaste skop van die regoppaal af teruggespat het.
Dit het die Wit Hingste egter ‘n geduldige periode van 24 minute geneem om uiteindelik hul eerste punte aan te teken.
Kudus was eerste uit die blokke met ‘n strafdoel deur losskakel Kyle Wentzel, voor hul spelskepper-senter Justin Newman die vleuel Aston Mukwiilongo aan die regterkant weggestuur het vir ‘n tipiese ontwykende lopie doellyn toe. Met Wentzel se doelskop was die bloues met 10-0 voor.
Wanderers se reaksie was ‘n agterlyn-aanval na links, van waar die flank Dhale Cloete hul eerste drie gedruk het. Hul indrukwekkende tweede drie het met ‘n lynstaandryf op Kudus se tienmeterlyn begin, wat ver gevorder het voordat haker Edward Drotsky weggebreek het om los deur doellyn toe te nael (Wanderers 14-10 voor).
Kyle Wentzel het vanaf ‘n aanvallende skrum ‘n rolskop deurgestuur en self op die bal gaan duik net voor dit oor die doodlyn sou wip. Sy doelskop het Kudus ná 34 minute met 17-14 voor geplaas en nadat hy beswaarlik ‘n voet verkeerd gesit het, sou dit later ietwat vreemd wees toe hy rustyd in ‘n taktiese skuif afgehaal is om vir Aurelio Plato plek te maak.
‘n Skrum net voor rustyd in Kudus-kwartgebied was die platform vir Danco Burger as eerste ontvanger aan die steelkant, van waar die bulslot Kistings Minyoi onkeerbaar vir ‘n tipiese drie was (rustyd 21-17).
Plato het ná 48 minute ‘n strafdoel vir Kudus bygevoeg, maar André van der Berg se skop-en-jaag het die veld gewen vir Wanderers se volgende lynstaandryfpoging wat met Minyoi se tweede drie afgerond is (28-20).
Foute het in Kudus se uitvoering begin insluip, soos ‘n lynstaaningooi oor die springer se hande wat Edward Drotsky raakgevat het vir ‘n stormloop vir sy tweede drie.
Van naby die doellyn het agtsteman Adriaan Booysen vir sy drie oorgebars (42-22), voordat Kudus eindelik weer kans gekry het om Justin Newman vanaf ‘n tikskoppie deur te werk.
‘n Wegholdrie van omkeerbesit naby die halflyn vir regtervleuel Nanivatu Karuuombe, en Drotsky se driekuns-drie vanaf ‘n lynstaandryf was die finale spykers wat Wanderers in die doodkis gekap het.
NRU RESERWELIGA-FINAAL
FNB Kudus se tweede span was die titelhouer en was onoorwonne in 17 wedstryde dié seisoen, maar ‘n ewe vasbeslote FNB Unam II het hulle in die eindstryd met 33-30 geklop (rustyd 24-21).
Denzo Bruwer, Kudus se gewese nasionale losskakel, het kort voor die einde ‘n kans gehad om die eindtelling gelykop te maak en ‘n valbyl-tydperk af te dwing, maar sy strafskop het links verby geseil.
Unam, gelaai met ewe belowende jong spelers, het die oorwinning opgedra aan die klub se gewilde stut Graham April wat vroeër vanjaar in ‘n padongeluk gesterf het.
Puntemakers:
Unam 33 – Drieë deur slot Paulus Hangula, losskakel Nazume Swartz, senter Raschano van Rooi, flank Jaydene Links, reserwehaker Gawain Klein. Strafdoele deur Swartz en Van Rooi. Doelskop deur Swartz.
Kudus 30 – Drieë deur vleuel Quirione Majiedt, flank Utaara Uaaka. Doelskoppe (2) en strafdoele (3) deur losskakel Denzo Bruwer.



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article