Wanderers kies sterk teen Kudus

Klubrugby
Andrew Poolman
Denzo Bruwer is terug in die 10-trui vir FNB Wanderers se besoek aan Walvisbaai vir waarskynlik die verdedigende kampioen se grootste toets van die 2025 premierligaseisoen van die Namibië Rugby-unie.

Bruwer is ‘n wedstrydwenner in groot kragmetings en is op losskakel ingesluit nadat hy in laas naweek se derbysege met 47-24 teen Trustco United net vir die tweede helfte opgestuur was.

Die ewe bedrewe en onderskatte Johnny Mwenyo verskuif dus na heelagter in die plek van Tolley Tjipute, wat teen United goed vertoon het.

Wanderers se afrigter Darryl de la Harpe sê: “Rainer (Augustyn, slot) is uitstedig met werk en dus gee ons JP (Campbell, Namibië o.20, 2024 en 2025) ‘n speelkans. Ons het baie vertroue in hom. Op senter is Danie van der Merwe ook terug en sal op 13 langs Danco Burger inval.”

Ná ses wedstryde is Wanderers (34 ligapunte) die enigste onoorwonne uit die nege spanne in die premierliga. Op hul hakke is Kudus (29), wat op 5 April ‘n wegwedstryd met een punt teen United verloor het.

FNB Wanderers: 1 Hans Ngoshi, 2 ?Edward Drotsky, 3 ?Liam Compion, 4 ?Ruan Ludick, 5 ?JP Campbell, 6 ?Sheron Rossouw, 7 ?Joe Losper, 8 Adriaan Booysen, 9 ?Jacques Theron, 10 ?Denzo Bruwer, 11 ?Jurgen Meyer, 12 ?Danco Burger, 13 ?Danie van der Merwe, 14 ?Owen Hawanga, 15 Johnny Mwenyo.

• By die United-veld sal Trustco United (vierde) en FNB Unam (vyfde) se botsing ook van kardinale belang vir beide die aspirerende semifinaliste wees.



Bepalings, NRU Premierliga

Walvisbaai: FNB Kudus v FNB Wanderers (15:45). Skeidsregter: Oscar Lambert.

Uitsaaier: https://oneuptwo.com / NTV / YouTube (Network Media Hub)

Khomasdal: FNB Western Suburbs v FNB Reho Falcon (15:45). Skeidsregter: Anthonie de Greeff.

Rehoboth: FNB Rehoboth v FNB Dolphin (15:45. Skeidsregter: Henrico du Plessis.

United-veld: Trustco United v FNB Unam (15:45). Skeidsregter: Johre Botha.