Wanderers glip net-net deur finaal toe

Klubrugby
Op Rehoboth het FNB Kudus se tweedespan 'n honderdtal opgestapel.
Andrew Poolman
Die eerste rugbyspan van FNB Unam het hom Saterdag voor sy tuisskare met mening teëgesit, maar kon nie verhinder dat FNB Wanderers met 34-31 wen en sy plek in komende naweek se eindstryd van die JSB Gold Cup premier-afdeling inneem nie.

Die wedstryd was basies ‘n valbylstryd tussen Wanderers (tweede) en Unam (derde), met net die toptwee spanne wat na die eindstryd deurdring en FNB Grootfontein wat volpunte ontvang het ná die onttrekking van Trustco United.

Wanderers se keuse om met die stut Herschell van Wyk as haker te begin met Obert Nortje op die reserwebank, het bygedra tot ‘n stadiger as gewoonlike begin vir die Wit Hingste, wat die vroeë momentum met ‘n paar verlore lynstane prysgegee het.

Unam het sy voornemens gewys met haker Marchell Klein se onverdoelde drie van ‘n lynstaandryf ná drie minute, voordat losskakel Delron Brandt ‘n strafdoel bygevoeg het om met 8-0 voor te loop.

Die tuisspan is egter ‘n skok toegedien met ‘n langafstanddrie ná tien minute wat van byna op Wanderers se doellyn begin het. Die Unam-senter Raschano van Rooi het ‘n kort rolskoppie vir homself tot in die kwartgebied gegee, maar sy direkte opponent Danco Burger het die bal vinnig na plaasvervanger-vleuel Tolley Tjipute uitgeskiet wat reguit deurgenael het ondanks die vergeefse jaagtog van Brandt en heelagter Aljarreau Zaahl.

Tjipute, wat vooraf ook vir die tweede span gespeel en ‘n drie gedruk het, is opgestuur toe JC Greyling weens ongemak van ‘n kuitspier vroeg die veld verlaat het.

Burger se doelskop was oor, voordat Brandt weer vir Unam met ‘n strafdoel voor geplaas het (11-7).

Nadat Wanderers min besit gehad het of konstruktiewe aanvalskanse kon skep, het ‘n skrum ná 27 minute uitgeloop op ‘n drie vir heelagter Nandivatu Karuuombe ná ‘n omkombeweging tussen Burger en skrumskakel Reben Botha. Burger het verdoel (11-14).

In die minute voor rustyd het senter Johan Deysel ‘n drie vir Wanderers gedruk wat Burger verdoel het, voordat Brandt met ‘n strafdoel effens ingehaa het (rustyd 14-21).

Unam se skrumskakel Ceejay Coetzee het die gelykmakende drie van ‘n losskrum op die doellyn gedruk (21-21 ná 47 minute) toe Brandt verdoel het.

Vier minute later het Wanderers se agtsteman Edward Drotsky agter ‘n vyfmeterskrum opgetel en oorgebars, vir Burger se doelskop (21-28).

Brandt en Burger het strafskoppe bygevoeg (24-31), voordat die Unam-voorspelers hul plaasvervangerflank Newton Makaka oorgewerk het vir nog ‘n gelykmakende drie.

Danco Burger se strafdoel ná 75 minute was uiteindelik die wenpunte, ná ‘n wedstryd wat in goeie gees beslis is, met beide kapteins wat agterna vol lof vir die opposisie was.

• Tweede spanne: Wanderers II wen met 59-37 en dring deur na die Gold Cup reserwe-eindstryd teen Kudus II.

Kudus wen op Rehoboth

In ‘n wedstryd waarin niks meer op die spel was ná United se onttrekking teen Grootfontein nie, het FNB Kudus nietemin op ‘n hoë noot afgesluit deur FNB Rehoboth op die suidedorp met 59-21 te oorskadu.

Vir die Walvisbaaier het regtervleuel Dolano Vries (3), heelagter Aston Mukwiilongo (2), buitesenter Lloyd Jacobs, agtsteman Alexander Jansen en reserwe-agterspeler Arnando Dentlinger hul nege drieë ingeryg, waarvan losskakel Michael Koopman vier verdoel het en plaasvervanger Aurelio Plato drie.

Die Rooi Bulle se antwoord was drieë deur flank Keynnen Basson (2) en skrumskakel Jason Farmer, wat aldrie deur senter Miquel Busch verdoel is.

Honderdtal

FNB Kudus se tweede span het met 119-6 teen Rehoboth sy stem dik gemaak voor volgende naweek se reserwe-finaal.

Losskakel Josh Visagie het met nege doelskoppe geslaag vir 18 punte, terwyl Kudus se fees van 18 drieë deur senter Arnando Dentlinger (3), vleuels Suramie Kambombo (2) en Zane Williams (2) en haker Roberto Lensley (2) gelei is.

Vroue gelykop

By Unam-stadion het die Unam Steenbokkies se kampioenspan vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd werklike teenstand gekry toe Wanderers Bokkies hulle tot ‘n gelykopuitslag met 19-19 beperk het.

Dieselfde twee spanne sal komende Saterdag in die JSB Cup-vrouefinaal by die Hage Geingobstadion ‘n herontmoeting hê.

Vir Wanderers het vleuel Lizzle Tsauxas, losskakel Joana van Staden en flank Euodia Bassingthwaighte drieë gedruk, waarvan Van Staden twee verdoel het.

Die Steenbokkies vir Ivone Kooper (heelagter; een drie) en Michelle Slinger (losskakel; een doelskop) van die reserwebank af laat speel. Vleuel Edwina Kastoor en skrumskakel Veripamue Kamburona was hul ander driedrukkers.