Wanderers en Kudus wil 2026 met wenfinaal afsluit
Die terugkeer van drie staatmakers wat vir die nasionale sewesspan diens gedoen het, behoort FNB Kudus op bykans volle sterkte te plaas in die verdediging van hul titel by die Namibië Rugbyunie (NRU) se premierliga-eindstryd komende Saterdag teen FNB Wanderers.
Die agterspelers Aston Mukwiilongo, Aurelio Plato en Lucio Isaacs was afwesig toe Kudus twee naweke gelede in Windhoek hul halfeindstryd teen Montego United met 55-38 beklink het.
Die drietal was onbeskikbaar ter voorbereiding op deelname aan die Mauritius-sewestoernooi, waar die Namibië-span in die uitspeelwedstryd om die vyfde plek net voor die eindfluitjie teen Réunion verloor het (22-26).
Kudus het verlede jaar die golf van ‘n ongekende fanatiese ondersteunersbasis gery op pad na sy geskiedkundige eerste nasionale kampioenskapstitel, deur Wanderers in die einste Hage Geingob-stadion met 50-32 te oorskadu.
Kudus se afrigter Cameron Langenhoven het gister op die nuuskonferensie ter aankondiging van die Kudus-span gesê: “Dit was ‘n lang seisoen met 17, nou 18 wedstryde. Mense besef nie altyd hoeveel dit verg van spelers en bestuurslede om deurentyd by oefensessies teenwoordig te wees, asook om ons reisverpligtinge met wegwedstryde na te kom nie.”
In Langenhoven se spankeuse het die vleuels Quirione Majiedt en Giovanni Izaaks plek gemaak vir die terugkeer van Mukwiilongo en Lucio Isaacs in die gebruiklike agterste driehoek met Lloyd Jacobs.
• Kudus se tweedespan het vanjaar as heersende titelhouer onoorwonne deur die NRU reserweliga geseil en het ook sy semifinaal teen Wanderers II met 40-26 gewen.
Die laaste hekkie in die pad van die Walvisbaaiers se strewe na ‘n derde opeenvolgende titel is FNB Unam se tweedespan, wat die finaal gehaal het deur FNB Grootfontein II naelskraap met 41-39 uit te skakel.
Die insluiting van Denzo Bruwer op losskakel vir Kudus II getuig van die diepte wat Langenhoven en sy afrigterspan vanjaar opgebou het.
VOORLOPER
FNB Wanderers het ‘n briljante seisoen sover – met ‘n bykans ongekende 85 ligapunte ná 16 ligawedstryde, en ‘n positiewe punteverskil van 500 voor die semifinaal.
Afrigter Darryl de la Harpe se Wit Hingste het beide die meeste drieë gedruk (129; ‘n gemiddeld van agt) en die minste afgestaan (49; gemiddeld drie).
Wanderers het vanjaar beide tuis en weg teen Kudus gewen, en het hul enigste nederlaag vir die seisoen gewreek deur Grootfontein in die semifinaal uit te haal (60-27).
Aan Wanderers se kant het die stut Hans Ngoshi in die eerste helfte van die seisoen teen Unam ‘n voetbesering opgedoen wat sy seisoen beëindig het, terwyl die haker Obert Nortje in die tweede rondte se tuiswedstryd teen FNB Grootfontein harsingskudding opgedoen het.
Die heelagter Jaylon Carew, een van Wanderers se jong aanwinste vir die seisoen, het in die semifinaal teen FNB Grootfontein ‘n rooikaart gekry toe hy ‘n knie in die gesig gebruik het om homself uit ‘n losskrum te bevry. Vir hierdie onbesonne oomblik is hy intussen geskors en is dus ook nie vir die finaal oorweeg nie.
Die 32-jarige slot Ruan Ludick se trouseremonie Saterdag was reeds bespreek voordat uitstel van die rugbyfinaal se datum hom genoop het om te onttrek. Ludick het intussen bevestig dat hy halt roep op ‘n rugbyloopbaan van bykans twaalf jaar wat vir hom meer as 30 toetse vir Namibië opgelewer het.
Sy jonger broer Adriaan Ludick is die kaptein van Kudus en hul regstreekse ontmoeting sou dus ‘n vername deel van die fisieke stryd om besit voorlangs gewees het. Adriaan het ook aan die koerant laat blyk dat Saterdag se finaal sy laaste rugbywedstryd sal wees.
PREMIERLIGA-FINAAL SE SPANNE:
FNB Wanderers: 15 Wiks Tromp, 14 Nandivatu Karuuombe, 13 Owen Hawanga, 12 Danco Burger (kaptein), 11 Tolley Tjipute, 10 André van der Berg, 9 Jacques Theron, 8 Adriaan Booysen, 7 Kyle Nel, 6 Dhale Cloete, 5 JP Campbell, 4 Kistings Minyoi, 3 Joshua Bester, 2 Edward Drotsky, 1 Chemigan Beukes.
Reserwes: Herschell van Wyk, Joric Muir, Victor Dumbo, Joe Losper, Brandon Nortje, Reben Botha, Kian Fransman, SW Kuhn.
FNB Kudus: 15 Lloyd Jacobs, 14 Aston Mukwiilongo, 13 Justin Newman, 12 PJ Walters, 11 Lucio Isaacs, 10 Kyle Wentzel, 9 Ray-Shawn Shoombe, 8 Ja-Tamson van der Berg, 7 Lezardo Vos, 6 Sheron Rossouw, 5 Clayton Camm, 4 Adriaan Ludick (kaptein), 3 Craig Swartz, 2 Gerhard Thirion, 1 Mogamat-Allie Emamdien
Reserwes: Jarren Koning, Carl-William Freygang, Clinton Langenhoven, Roche Jansen van Vuuren, Alexander Jansen, Franco Vries, Aurelio Plato, Tonderai Ndudzo.
AFSKOPTYE
NRU Vroue 15’s FINAAL: Unam Steenbokkies tn Wanderers Bokkies (12:30). Skeidsregter: Anthonie de Greeff.
NRU reserweliga FINAAL: FNB Kudus II tn FNB Unam II (14:00). Skeidsregter: Romario de Koker.
NRU premierliga FINAAL: FNB Wanderers tn FNB Kudus (16:00). Skeidsregter: Johre Botha.
• Alle wedstryde regstreek op NTV en https://oneuptwo.com/ntv vertoon



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article