Wanderers beklink derby teen moedige United
Klubrugby
Kwessies verwant aan die tekort aan skeidsregters is die naweek opnuut uitgewys.
Dit het FNB Wanderers ‘n tydjie geneem om die vasberade weerstand van sy aartsvyand Trustco United af te breek, maar die Wit Hingste het uiteindelik hul tuisderby oortuigend met sewe drieë teen vier (47-24) beklink.Die uitslag het Wanderers se onoorwonne status behoue laat bly met twee ligawedstryde oor – op die volgende twee naweke weg teen die tweede geplaaste FNB Kudus en daarna tuis teen FNB Western Suburbs.
Met die diepte in Wanderers se geledere kon hulle steeds die oorwinning verseker sonder die twee dinamiese agterspelers soos Danie van der Merwe (familieverpligting) en Natie van Rensburg (uitstedig met werk).
Senter JD Nel se United-span het in die vaste fasette goed hul man gestaan. Drieë deur stut Kamaa Kajau en agtsteman Thehard Lintvelt het hulle op 12-12 gelykop geplaas, voordat die gasheerspan algaande die oorhand bewerkstellig het.
Wanderers het ‘n pragmatiese lae-risiko benadering gevolg om met sy voorspelerspel en dryfmaalbewegings drieë in die eerste helfte vir agtsteman Adriaan Booysen, flank Sheron Rossouw en Edward Drotsky te skep, terwyl senter Danco Burger afgerond het van ‘n stormloop deur slot Ruan Ludick. Met drie doelskoppe deur losskakel Johnny Mwenyo was die voorsprong 26-12 teen rustyd.
Mwenyo het die eerste drie en doelskop kort ná die hervatting bygevoeg (33-12), voor Wanderers momentum verloor het tydens Rossouw se geelkaartperiode (52ste minuut). United se vleuel Christo Gresse het sy twee drieë (52ste en 79ste minute) beide uitstekend in die linkerhoek afgerond, terwyl heelagter Enrique Husselmann twee doelskoppe vir die dag bygevoeg het.
Wanderers se tweede asem het egter drieë ses en sewe (Danco Burger en linkervleuel Jurgen Meyer) met goeie samespel en ‘n verhoging in die tempo opgelewer.
Die ervare skeidsregter Danie Koen het voor die afskop bekend gemaak dat hierdie wedstryd om gesondheidsredes sy laaste sou wees.
United se kaptein JD Nel het agterna gesê veral die eerste 25 minute was kliphard en selfs teen rustyd was sy span se kanse nog lewendig. “Ongelukkig het die verrigtinge rustyd albei spanne se koppe gesmokkel; ek is glad nie ten gunste daarvan nie. Maar dis nie ‘n verskoning nie. Ons het lank geneem om in die tweede helfte aan die gang te kom.”
Nel reken sy span sal terugveg om in hul laaste twee groepwedstryde teen FNB Unam en ‘n besoek aan FNB Dolphin momentum vir die uitklopfase van die seisoen op te bou.
Mukwiilongo ryg vier drieë in
FNB Kudus van Walvisbaai het nie vir die pret na Rehoboth gereis nie, maar het hul erns gewys met ‘n oortuigende bonuspuntsege van 38-8 oor die tuisspan Reho Falcon voor honderde toeskouers by die Hoërskool Dr. Lemmer.
Ons oudkoolega Boet Matthews berig die besoekers se fiksheid en samespel was net te veel vir die Valke en met ‘n voorsprong van 19-3 rustyd was die skrif reeds aan die muur.
Falcon is gefrustreer deur sommige van skeidsregter Zaid Isaacs se beslissings wat hul vlerke geknip het.
Kudus was nietemin die beter span en het reeds na die eerste 40 minute se spel gerieflik voorgeloop. Hulle het die Valke behoorlik in hul eie helfte vasgepen.
Kudus se speler van die wedstryd was Aston Mukwiilongo, die woelwater heelagter wie se spoed en kronkellopies hom vier keer in die tweede helfte agter die Valke se doellyn laat kuier het.
Die wenspan se eerste en tweede drieë is deur vleuel Irongwa Atshivudhi en senter PJ Walters aangeteken. Losskakel Kyle Wentzel en sy plaasvervanger Michael Koopman het elk met twee doelskoppe geslaag.
Die kaptein van Kudus, flank Cameron Langenhoven, het agterna gesê: “Ons het glad nie vir Falcon onderskat nie. Dis altyd baie moeilik om uit na Rehoboth te kom en ‘n goeie vertoning te lewer. Maar die wedstryd was in goeie gees gespeel en ons sê dankie aan Reho Falcon.
“Die oorwinning konsolideer ons tweede posisie op die punteleer en verseker dat ons in die top vier vir die semifinale sal eindig.
“Aston het met sy vier drieë gewys dat ‘n blink toekoms op hom wag. Die komende Saterdag speel ons teen die voorloper Wanderers op ons tuisveld. Ons sien uit na die kragmeting. Ons is meer gefokus om die regte prosesse te volg en die uitslae sal vir hulself sorg.”
Die Valke se afrigter Gerald Loubser was nie in sy noppies met die vertoning van die blaser nie.
“Jy kan nie momentum bou as jy teen die skeidsregter speel en kort-kort gestraf word nie. Net foute aan die een kant is raakgesien en gestraf. Maar vir die eerste professionele oortreding aan ons kant, wys hy ‘n geel kaart (slot Saari Uugwanga).
“Ons is nooit kans gegee om ons spel te speel nie. Al wat ons vra, is ‘n regverdige mededinging. Ek is bitter teleurgestel. Ons het reeds Donderdag kapsie gemaak ná Zaid Isaacs se onlangse vertoning hier op Rehoboth.”
Falcon se enigste drie is deur stut Dwayne Alexander gedruk, met ‘n strafdoel deur Ashton van Wyk.
Agtsteman kook vir Unam
FNB Universiteit van Namibië het voor hul tuisskare ‘n oorwinning met 43-28 teen FNB Rehoboth behaal.
Unam-ondersteuners is verbly deur die vertoning van die atletiese agtsteman Oderich Mouton wat twee drieë gedruk het.
Die 27-jarige losvoorspeler en gewese nasionale sewesrugbykaptein het ‘n tyd gelede met ‘n beenbesering van sy Poolse klub Juvenia Kraków teruggekeer, maar sy teenwoordigheid was ‘n groot nous vir die studentespan wat vanuit die vyfde posisie op die puntelys alles in die stryd wil werp om die semifinaal te haal.
Regtervleuel Quirione Majiedt (twee), die flank en kaptein Rowan Jansen en plaasvervanger-skrumskakel Don-Juan Beukes het Unam se ander drieë gedruk om ‘n bonuspunte te verseker.
Vir Rehoboth was drie drieë (vleuel Dolano Vries, senter en kaptein Miquel Busch en agtsteman Keynnen Basson) nie genoeg om ‘n ligapunte by te voeg nie. Afrigter Jacky Bock se Rooi Bulle bly sewende uit die nege spanne.
Grootfontein nou derde
FNB Grootfontein het verby United na die derde posisie geklim danksy hul oorwinning met 40-13 op Swakopmund teen FNB Dolphin.
Grootfontein se haker en kaptein Wikus Jacobs het drie drieë gedruk. Tesame met sy een teen United, vier teen Reho Falcon, een teen Wanderers en driekuns teen Kudus staan sy totaal vir die seisoen op 13 in sewe wedstryde – wat ook van sy agttal se oorheersende lynstaandrywe spreek.
Agtsteman Johan Luttig, sy broer op flank Pieter Luttig en reserwe-agterspeler Lorenzo Louis het Grootfontein se ander drieë gedruk, terwyl regtervleuel Uroèl Marais (vier) en losskakel Rudi Pretorius (een) met doelskoppe in die kol was.
Dolphin se driedrukkers was agtsteman Cameron Markus en plaasvervanger-voorspeler Marco Vermeulen, met een strafdoel deur Benito Bezuidenhout.
Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article