Vipers kyk vooruit na nuwe begin
Rugby
Mede-eienaar F.A. Gerber sê vir sekere spelers kan Vipers, by wyse van spreke, net die regte medisyne wees.
Die Windhoekse klub Vipers is opgewonde om sy nuwe bestuurspan aan die rugbygemeenskap voor te stel. Die oudspelers Frans-Anthonie Gerber en Charles Oosthuizen het die klub van die vorige eienaars en stigters oorgekoop. Dié twee sal in 2026 op die bestuurspan dien tesame met Dalre Vermaak, Bradley Jarman, Nicolaas Mostert, Ryno Brand, Alida Brand en Azealo Cupido. Charles Oosthuizen en Dalre Vermaak (voorspelers, krag en kondisionering) is die afrigterspan vir volgende seisoen. Oosthuizen het in sy speeldae as ‘n vleuel vir Wanderers, Mariental, Namibië se o.19-span en Vipers (2019) gespeel en het Wêreldrugby se vlak 2-kwalifikasie as afrigter. Gerber, wat agtsteman vir onder meer Wanderers, United en die Namibiese sewesrugbyspan gespeel het, sê Vipers het weer hul kontrak met Pionierspark Laerskool hernu om Parkies as hul tuisveld te gebruik. “Ons en NUST is die enigste eersteliga rugbyklubs in Windhoek. Ons het in die verlede teen eersteligaspanne van Gobabis, Mariental, Okahandja, Tsumeb, Walvisbaai (Sparta en Oceans) en Swakopmund, Lüderitz, Oranjemund en Keetmanshoop meegeding.” Gerber sê sover lyk dit asof die volgende spannne in 2026 in die NRU eersteliga gaan deelneem: Sparta, NUST, Oranjemund, Ocean Swallows, Oceans, Okahandja Highlanders, Keetmanshoop Rams, Mariental en Vipers. Steun agter die skerms Gerber sê afgesien van drie borge wat reeds vir die 2026-seisoen bevestig is – Dulux Namibia, Fabupharm Namibia en Ongwari Pharmacy Omaruru – Genesis Nutrition – is die klubbestuur in “baie positiewe onderhandelinge met nog maatskappye”. Fabupharm se borgskap sluit produkte in wat spelers met ‘n spoedige herstel ná elke oefening bystaan. Besoekende spanne word in die borgskap bygereken. “Ek is besig om te onderhandel met moontlike borge vir die spelers van die wedstryd-toekennings vir beide Vipers en die besoekers, en ons wil hierdie spelers met ’n kontantbydrae beloon. “Ons is ook in onderhandelinge rakende die uitsaairegte om al ons tuiswedstryde regstreeks te vertoon, en sal dit ook binnekort bekend maak,” sê Gerber. Hoekom Vipers en hoekom eersteliga? “Ons sit in Namibië met die probleem dat vele spelers ná skool ‘verdwyn’. ’n Handjievol gaan studeer in Suid-Afrika en van daai handjievol is daar altyd ’n persentasie van spelers wat nie aanhou met rugby speel nie. “Ons wil kyk na spelers wat in Namibië bly. Vele jong spelers vind dit moeilik om dadelik ná skool by ’n premierligaklub in te skakel, vanweë die harde vlak van rugby wat gespeel word. Ons wil die spelers oplei en ontwikkel in die eersteliga en ons visie is dan om so ’n speler wat talent wys en vorder, na ’n premierligaspan te vat en hom daar speelkans te gee. Ontwikkeling berus nou by die klubs. “Dit sal darem lekker wees om in die toekoms ’n Vipers-speler in ’n nasionale span te sien!” Gerber sê ervare spelers naby die einde van hul speeldae is, voel soms lus om net weer vir die genot rugby te speel en deel van ’n klub te wees waar hulle ondervinding kan terugploeg. “Sulke spelers kan dan by ons as ’n eersteligaklub inskakel. Ek het self op die ouderdom van 46 weer ná 18 jaar die tokse aangetrek vir twee seisoene en dit was bitter lekker (2022-2023). “Ons wil in 2026 ’n Vipers-gemeenskap skep, waar spelers hulle gesinne kan bring en die dag saam met ons geniet. “Ons nooi spelers uit om te kom kyk, te kom oefen. Ons is reeds nou besig met voorseisoen oefeninge op Dinsdae en Donderdae, en sal vroeg in Januarie 2026 weer volstoom begin.”



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article