United se bloues juig eindelik weer oor dié titel
‘n Droogte van ‘n volle tien jaar is verbreek toe Trustco United as wenners van die premier-afdeling van die Castle Lite Trustco United tienmanrugbytoernooi weggestap het.
Die Filistyne het FNB Wanderers in die eindstryd met 29-0 oorskadu en sodoende die eerste triomf in hul jaarlikse toernooi sedert 2016 teweeg gebring. United was meedoënloos wanneer hul kanse geskep het, terwyl die Wit Hingste geleenthede vir punte laat wegglip het.
Afrigter Herman Lintvelt was agterna baie trots op sy jong span, met fiksheidswerk in die voorseisoen in samewerking met Danie Vermeulen (voorspeler-afrigter) wat vrugte afgewerp het.
Die aansluiting van Shaun White is ook ‘n aanwins vir United, nadat die bekende oudslot van Walvisbaai, Sparta en Kudus weens werkredes na die hoofstad verhuis het. White het onder Roger Thompson bygedra tot FNB Kudus se historiese oorwinning in die 2025 NRU premierliga.
Kaptein DJ Holtzhausen se Unitedspan het in ‘n taai semifinaal opgedaag om die ewe dreigende jong FNB Unam van Alcino Izaacs met 15-0 uit te skakel, in ‘n vasberade regrukpoging nadat die Filistyne hul oggendwedstryd teen FNB Rehoboth met 5-17 verloor het.
Wanderers het die eindstryd gehaal toe die einste Rehoboth hul kans laat in die semifinaal weggesmyt het. Die Rooi Bulle het met 7-0 en later 7-5 voorgeloop en met speeltyd verstreke, was hulle in besit van die bal in Wanderers se kwartgebied. Met gesteelde besit is die vleuel Tolley Tjipute egter op ‘n lopie weggestuur, voordat die senter Ray-Eez Feris in die regterhoek oorgebars het vir nog ‘n onverdoelde drie en ‘n eindtelling van 10-7.
Wanderers het verlede jaar hierdie toernooi gewen deur FNB Grootfontein in die eindstryd te klop.
Vir die deelnemende klubs bied United se tien-aan-‘n-kanttoernooi jaarliks ‘n vroeë barometer om hul spelersgroep aan kompetisie bloot te stel en die fiksheid en samespel deur te kyk voordat die meer ernstige 15-aan-‘n kant ligas aan die gang kom.
PREMIER-FINAAL
Trustco United I klop FNB Wanderers I met 29-0.
United ontvang N$15,000; Wanderers ontvang N$7,500.
RESERWE-FINAAL
FNB Unam II klop Trustco United II met 12-10.
Unam, onder kapteinskap van die losskakel Raschano van Rooi, ontvang N$10,000; United ontvang N$5,000.
VROUEFINAAL
Nadat die eindfluitjie op 10-10 geblaas het, het Trustco United se Gemsbokkies en die FNB Wanderers Bokkies bykomende valbyltyd gespeel met die eerste volgende punte wat die uitslag sou beklink. United het die wendrie gedruk (17-10) terwyl skeidsregter Anthonie de Greeff die Wanderers-span met twee opeenvolgende geel kaarte tot net agt spelers beperk het.
United, wat onder kapteinskap van die flink skrumskakel Mbitjita Matuzee ook hul groepwedstryd teen die Unam Steenbokkies met 17-5 geklop het, ontvang N$7,500; Wanderers ontvang N$4,000.



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article