Tuks-generaal Du Toit reg vir finaal teen sy ou spanmaats

Rugby
Marnus Kok

Ondanks Divan du Toit, losskakel van Tuks, se noue verbintenis met die NWU-Arende is daar nie sprake daarvan dat hy komende Maandag in die Varsitybeker-eindstryd in Pretoria deur emosie oorweldig sal word wanneer hy teen sy ou spanmaats speel nie.

Du Toit, wat vandag sy 24ste verjaarsdag vier, het net verlede jaar nog vir die Potchefstromers in dié studentereeks diens gedoen.

“Ek ken die hele span en ook al die afrigters (van die NWU-Arende) baie goed,” sê hy.

“Ek is steeds baie lief vir die NWU; ek het daar die geleentheid gekry om in die Varsitybeker te speel. Maar Tuks is nou my tuiste en ek doen my bes vir hulle. Dit sal ’n uitdaging wees om teen hulle te speel, nie sielkundig nie, maar omdat ek weet hulle is ‘n baie goeie span.”

Du Toit is ’n oudleerling van die Hoërskool Transvalia in Vanderbijlpark wat ná matriek aanvanklik eers op die NWU se Vanderbijlpark-kampus studeer het. In daardie tyd het hy ook vir die Valke diens gedoen. Later het Du Toit op die Potchefstroom-kampus gaan studeer, waarna hy ’n Pretorianer geword het.

Vroeër het Du Toit meestal skrumskakel gespeel, maar deesdae is hy in sy element in die nr. 10-trui. Hy is saam met Matthew Fortuin (Arende) en Jack Benade (Ikeys) op die kortlys vir die eerbewys as die Varsitybeker se Agterspeler van die Jaar.

“Coach Dewey (Swartbooi, Tuks se afrigter) ken my as iemand wat losskakel speel; hy was destyds die verdedigingsafrigter by die Valke,” sê Du Toit.

“Nadat die NWU verlede jaar teen Tuks gespeel het, het hy my gevra of ek vanjaar na Pretoria wil verhuis om vir hulle as losskakel diens te doen. Vir my is dit lekker om losskakel te speel. Sover gaan dinge goed in dié posisie.”

Du Toit voeg by daar heers groot opgewondenheid onder hom en sy spanmaats vir die eindstryd. Tuks het al by vyf geleenthede – in 2012, 2013, 2017, 2021 en 2022 – die Varsitybeker gewen.

Tuks het Maandag met ‘n tuissege teen UJ (53-34) tot die eindstryd deurgedring. Die NWU-Arende het in die ander halfeindstryd in Potchefstroom die Maties met 50-10 verniel.

– Netwerk24