Tsumeb reis sonder 'n oefenweek na Elnatan
Skolerugby
Twee wedstryde word op die tweede naweek van die nuwe ligaseisoen gespeel – op Stampriet en op Walvisbaai.
Die eerstespan van Compack Tsumeb Gimnasium se taak om hul wenrekord twee uit twee in die nuwe seisoen van die Standard Bank o.19 premierliga te maak, sal straks nie so eenvoudig wees nie, ondanks ‘n indrukwekkende vertoning laas naweek.Die noordespan het op Swakopmund teen Inspares Pro-Ed Akademie met 24-21 gewen en het danksy vier drieë teen drie die maksimum van nege ligapunte uit die kragmeting gehaal.
Afrigter Wouter Niehaus van Tsumeb sê: “Dit was ‘n lekker fisieke wedstryd van twee uiteenlopende helftes. Pro-Ed het uitstekend teruggeveg ná ‘n 17-0 agterstand en tesame met swak dissipline aan ons kant (21 strafskoppe en twee geelkaarte) het dit ons amper die wedstryd gekos.
“Ek is trots op ons span om ten spyte van alles te kon deurdruk en die volle ligapunte in ons eerste wegwedstryd van die jaar te kon behaal.”
Die drieë vir Tsumeb Gimnasium is deur die agtsteman en kaptein Russel Bartlett, flank Eduardo Amutenya (twee) en slot Casper Oosthuizen gedruk, waarvan buitesenter FJ Fourie twee verdoel het.
Frans Joubert, afrigter van Pro-Ed, sê sy span het in die eerste helfte gesukkel om aan die gang te kom, maar mooi ingehaal deur hul kanse vir punte af te rond wanneer hulle in die opponente se kwartgebied was.
Pro-Ed se driedrukkers was Zayden Schreuder, Viljoen Theart en Marc Holloway, met drie doelskoppe deur Xavier Cloete.
Oor komende Saterdag se besoek aan Elnatan sê Niehaus: “Ek kan regtig nie verstaan hoekom vier skole se eerstespanne die naweek– ná die hele week se Namibiese oefenkamp – moet speel nie, én nogal die twee verste skole in die Superliga teen mekaar.
“Ons kon hierdie week glad nie met ‘n span oefen nie, want ses van ons beginspelers is by die oefenkamp en ons tel hulle eers Vrydagmiddag op, op pad Elnatan toe.”
Elnatan is op die eerste naweek met 42-28 deur die besoekende Namib Diesel Walvisbaai Privaatskool oorskadu, wat met ses drieë teen vier volpunte ingesamel het.
WAP na Walvisbaai
Afrigter Johan Zaayman se Autohaus Windhoek Affies het hulle laas naweek met 0-15 teen OK Moria Privaatskool se Bere vasgeloop, wat twee drieë teen nul by Affiespark gedruk het.
“Ons het nie goed begin nie. Ons het eintlik reeds te veel beserings en ons is in die moeilikheid vir die jaar,” sê Zaayman.
Sy span speel Saterdag teen Walvisbaai se nuwe inskrywing in die o.19 premierliga. Die “De Duinesig”-span is uit die hoërskole De Duine en Duinesig saamgestel en het onder afrigter Karl Cookson die uitdaging aanvaar, nadat De Duine ses jaar gelede ook vir die o.19 premierliga ingeskryf het.
Bepalings, Standard Bank o.19 premierliga
Stampriet: Farmstyle Elnatan 1 v Compack Tsumeb Gim 1 (12:00). Skeidsregter: A. Gouws.
Jan Wilken-stadion, Walvisbaai: De Duinesig 1 v Autohaus Whk Affies1 (12:00). Skeidsregter: Ernesto Pienaar.
Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article