SSA bou rugbyspelers vir die toekoms op
Supreme Sports Academy (SSA) het hom oor die afgelope twee jaar gevestig as een van die land se ontluikende platforms vir rugby-ontwikkeling. Onder leiding van Bakkies Rossouw fokus SSA daarop om jong rugbyspelers te ontwikkel, te inspireer en voor te berei vir groter geleenthede – nie net op die veld nie, maar ook in die lewe.
SSA het onlangs sy derde suksesvolle skoolvakansie-oefenkamp aangebied, sowel as “Coaching the Coaches”-projekte, insluitend samewerking met skole van oraloor die land.
Die akademie was ook betrokke by afrigting op verskeie vlakke, onder meer by Desert Stallions, ’n prominente jeug- en ontwikkelingsrugbyspan in Namibië.
Volgens Rossouw was vanjaar se oefenkamp besonders omdat dit ‘n “suiwer plaaslike produk” was.
“Ons het vanjaar uitsluitlik van Namibiese afrigters gebruik gemaak en daagliks met ongeveer 75 seuns tussen die ouderdomme 11 tot 16 jaar gewerk,” sê hy trots.
Die kamp het groot belangstelling van oraloor die land gelok, met jong spelers wat die geleentheid aangegryp het om in ‘n professionele, gestruktureerde en motiverende omgewing hul vaardighede te ontwikkel. Die fokus was nie net op tegniese rugbyvaardighede nie, maar ook op dissipline, spanwerk, respek en karakterbou.
“Vir ons gaan dit oor meer as net rugby,” verduidelik Rossouw. “Ons wil jong spelers help groei in selfvertroue en hulle voorberei vir die volgende vlak van die spel en die lewe.”
SSA bied ook daaglikse afrigtingsessies aan vir jong spelers wat deur die jaar hul spel wil verbeter. Die volgende groot fokus vir die akademie is hul “Coaching the Coaches”-inisiatief, wat daarop gemik is om plaaslike afrigters toe te rus met die kennis en vaardighede om die volgende generasie spelers beter te ontwikkel.
Met passie, visie en ‘n sterk fokus op ontwikkeling, wys SSA dat sport ‘n kragtige instrument kan wees om jongmense te inspireer en gemeenskappe te versterk. Vir vele van die spelers was die kamp nie bloot ‘n rugby-ervaring nie, maar ‘n aansporing dat harde werk, geleenthede en die regte mentors drome moontlik maak.



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article