Spaanse klub verwag Mahepisa

Rugby
Andrew Poolman

Die Spaanse rugbyklub Deportivo Aparejadores Rugby Burgos hoop om die Namibiese slot Mahepisa Tjeriko teen die einde van Oktober beskikbaar te hê.

Volgens mediaberigte in Spanje is Tjeriko tans in sy tuisland besig om sy visum te reël.

Die 33-jarige slot wat 1,97 meter lank is en 115 kilogram weeg, het in 2013 sy skoolloopbaan by Windhoek Hoërskool voltooi en by die Universiteit van Namibië aangesluit, waar hy tot in die huidige seisoen sy klubrugby gespeel het.

Tjeriko was ook ‘n lid van die Namibiese o.20-rugbyspan in 2013 en 2014. Hy het in 2016 sy toetsdebuut onder Phil Davies as afrigter van Namibië gemaak en het tot 2018 bygedra tot die kwalifisering vir die volgende jaar se Wêreldbeker in Japan.

Vanweë ontydige kniebeserings was die 2023-toernooi in Frankryk egter sy enigste verskyning by ‘n Wêreldbeker, waar Allister Coetzee aan die stuur van die Welwitschias was. Tjeriko is in die toets teen die gasheerland Frankryk vir die tweede helfte opgestuur.

Deportivo Aparejadores Rugby Burgos is in 1970 gestig en ding in die topvlak van klubrugby in Spanje, die División de Honor, mee. Aparejadores het in die 2025-2026 seisoen se finaal teen VRAC Quesos Entrepinares verloor. Die klub het onlangs die 2026-2027 seisoen met twee oorwinnings uit twee afgeskop.

Tjeriko het in die huidige seisoen sy terugkeer na die speelveld gemaak en hoewel Unam nie tot die topvier van die Namibië Rugbyunie se premierliga deurgedring het nie, was die slot kiesbaar vir die tweede span se NRU reserweliga-finaal komende Saterdag.

Unam II het die semifinaal teen Grootfontein se tweede span met 41-39 gewen, met Tjeriko in die beginspan. In die eindstryd sal hulle teen die onoorwonne titelhouer Kudus II opgeweeg word, wat met 40-26 te sterk vir Wanderers II was.