Slypkans teen Pumas moet raakgevat word

Rugby
Gerswin Mouton se aansluting by die krukkelys is 'n gevoelige terugslag.
Andrew Poolman
Die kniebesering wat die vleuel Gerswin Mouton twee naweke gelede in die eindstryd van Frankryk se Pro D2-liga opgedoen het, is ‘n gevoelige slag vir die Namibiese rugbyspan in ‘n uiters deurslaggewende seisoen.

Die 25-jarige Mouton was uitmuntend op dreef en het 14 drieë in 21 wedstryde in sy eerste seisoen vir Grenoble gedruk, met sy spoed en vinnige voetwerk wat voortgebou het op sy drieë teen Italië en Uruguay by die 2023 Wêreldbeker.

Mouton het egter skeef getrap terwyl hy ‘n duikslag in die Pro D2-finaal teen Montauban uitgevoer het en het ‘n kniebesering opgedoen wat hom vir ses weke op die kantlyn sal hou.

Nie net is hy dus buite rekening vir Saterdag se wedstryd teen die besoekende Airlink Pumas asook die toets teen Italië in Windhoek die volgende Vrydagaand nie, maar is ook in ‘n wedloop teen tyd vir die kwalifiserende Wêreldbekertoernooi en Afrikabeker volgende maand in Uganda.

Grenoble se Namibiese flank Richard Hardwick het die finaal misgeloop vanweë ‘n vroeër rooi kaart vir ‘n boorvat, maar die aanduiding is dat hy wel vir die Uganda-toer beskikbaar kan wees.

Helarius Kisting, Denzo Bruwer, Kian Beyer en Cameron Langenhoven is van die ander spelers wat ondanks hul aanvanklike insluiting weens beserings nie in die prentjie is nie. Die vleuel Natie van Rensburg het weens werkverpligtinge uit die nasionale groep onttrek.

Volgens die nasionale afrigter, Jacques Burger, behoort stut Aranos Coetzee, haker Torsten van Jaarsveld, slot/flank Johan Retief, skrumskakel Oela Blaauw, losskakel Tiaan Swanepoel, senter Freddie Dreyer en vleuel Divan Rossouw almal vroeg in volgende week in Windhoek aan te kom vir die opbou na die Italië-toets.

Rossouw se Seattle Seawolves is laas naweek in die Amerikaanse Major League Rugby uitgeskakel, maar Wian Conradie en Le Roux Malan se kampioenspan, die New England Free Jacks, hoop om nog die finaal op 28 Junie te haal.

Adriaan Ludick (slot) en Louis van der Westhuizen (haker) is van die ander gesoute toetsspelers wat hulle reeds vanaf hul buitelandse unies in Windhoek aangemeld het.



Bulstryd

Vir môre se vriendskaplike kragmeting sal die Pumas propvol selfvertroue wees om opnuut met ‘n groot punteverskil te wen teen die Welwitschias, wat hulle sedert 1990 nog nooit kon klop nie.

Die Pumas het hul laaste wedstryd in Windhoek in Maart 2023 met 81-8 gewen, maar vir die komende botsing lyk beide wedstrydgroepe sommer baie verskillend.

Die Pumas berei voor op die Curriebeker-premierliga, wat vir hulle op 25 Julie in Nelspruit teen die Griekwas begin. Die Mpumalanga-span het in die eerste deel van vanjaar elf wedstryde op ‘n streep oorheers op pad na hul sege in die SA Bekerreeks.

Uit die Namibiese oogpunt is die strewe dat die Welwitschias heelwat regstellende aanpassings sal kan maak nadat hulle laas naweek ondanks die laat oorwinning met 22-19 teen Uganda op Walvisbaai nie ‘n behoorlike oorhand op die telbord kon bewerkstellig het nie.

Met die Italië-toets wat vinnig nader kom, is Namibië steeds op die uitkyk om sy beste moontlike kombinasie saam te snoer.

Die Pumas se wedstrydgroep teen die Welwitschias (truinommers van spelers wat op 24 Mei in Nelspruit in die SA Bekereindstryd teen Griekwas gespeel het, tussen hakies aangedui):

Voorspelers: Etienne Janeke (1), Stephan de Jager (17), Dewald Maritz (18), Sampie Swiegers (3), Eduan Swart (2), Jan-Henning Campher, Darnell Osuagwu (16), Jeandre Leonard (5), Tiaan de Klerk, Miyelani Ngobeni, Heinz Bertram (4), Andre Fouche (20), Armand Maritz, Marvelous Mashimbyi, Willie Engelbrecht (kaptein, 8), Kwanda Dimaza (19).

Agterspelers: Ross Braude (onderkaptein, 9), Russwill Fredericks, Danrich Visagie (10), Wian van Niekerk (12), Carlton Banies, Jay-Cee Nel (22), Sango Xamlashe (13), Darren Adonis (11), Lundi Msenge (14), Stefan Coetzee (23), Tino Swanepoel (15).

• Beide die hoofwedstryd (15:00) en die NRU se eersteliga-eindstryd sal regstreeks op NTV se platforms gebeeldsend word.