Sharks derde slagoffer vir Namibië o.13-span

Rugby
Afrigter Brian Titus sê hoe langer die toernooi geduur het, hoe beter het die o.13-span gekombineer.
Andrew Poolman
Namibië se laerskolerugbyspan het Vrydag se deelname aan die Suid-Afrikaanse o.13 Akademieweek in Oos-Londen op ‘n hoogtepunt afgesluit deur die Sharks XV van KwaZulu-Natal met 20-12 te oorskadu.

Die linkervleuel Dehan Rover (Windhoek Affies) het twee aanskoulike drieë met langafstand-lopies uit sy eie helfte gedruk, terwyl die agtsteman en kaptein Vitjitua Uapingene (Windhoek Gimnasium) nog een bygevoeg het.

Die heelagter Gillmer Horn (Windhoek Affies), wat met tye ook op binnesenter gebruik is, het met een doelskop en ‘n strafdoel geslaag.

Met rustyd was die Namibiërs met 5-7 agter, maar Uapingene en sy spanmaats het hul toernooi op ‘n hoë noot afgesluit. In hul openingswedstryd het hulle teen Zimbabwe net-net die knoop deurgehaak (16-15), hierna op ‘n nat veld met ‘n enkele vyfpunter verskil teen die Oostelike Provinsie verloor (12-17) en toe ook die Goue Leeus XV (24-8).

Die span is deur hoofafrigter Brian Titus (St. Joseph’s), hulpafrigter JT Basson (Windhoek Gimnasium) en spanbestuurder Ernest Groenewald (Orban) vergesel.

Namibië ding normaalweg in die o.13 Cravenweek mee en sal na verwagting volgende jaar sy terugkeer tot dié gesogte toernooi maak. ‘n Spesiale reëling is vir 2025 getref dat Namibië na die tweedevlak toernooi sou verskuif in die plek van die Grens Platteland, wat veronderstel was om gerelegeer te word, maar vanweë sy status as gasheerunie beskerm is.

Titus sê: “Hoe langer die toernooi geduur het, hoe beter het die spelers gekombineer en hoe meer kompeterend het ons geraak. Ons span speel mos maar heelwat minder gereeld groot wedstryde as die RSA se provinsies.

“Vanjaar se o.12’s het ook goed gevaar op hul toer in Klerksdorp, wat help om ‘n grondslag vir volgende jaar se deelname te lê.”



O.16 Grant Khomo-week

In Pretoria was die Namibiese o.16-span nie so gelukkig in sy laaste wedstryd, die tradisionele nie-amptelike “toets” teen Zimbabwe nie.

Die Namibiërs was rustyd met 5-3 voor, danksy ‘n onverdoelde drie in die hoek deur die linkervleuel van Pro-Ed Akademie, Mias Nieuwoudt, ná 27 minute.

Die Zimbabwiërs het egter hul speltempo en vaardighede uitgestal in ‘n dominerende oorwinning met 34-5.

Die Namibiese o.16’s het in hul vorige wedstryde teen die Iqhawe XV (‘n kombinasie van spelers oraloor Suid-Afrika wat nie hul provinsie se span gehaal het nie) met 43-28 gewen (rustyd 29-7). Afrigter Jan Dames se manne het ook met tye goed gevaar in hul openingsnederlaag met 24-31 teen die Griffons, nadat hulle rustyd met 17-15 voor was.