Sege gee o.18's vertroue vir stryd teen Zim
Skolerugby
Die Namibiërs het gister ses drieë teen vier gedruk.
Die Namibiese skolerugbyspan het gister ‘n gemaklike oorwinning met 38-29 op dag twee van die Suid-Afrikaanse onder 18 Akademieweek in Middelburg, Mpumalanga, behaal.Hul opponent was die LSEN-vyftiental, wat vooraf by ‘n rugbyweek vir skole met leerlinge met spesiale leerbehoeftes gekies is.
Die Namibiërs het rustyd met 31-10 voorgeloop, voordat hul opponente gedurende die tweede helfte ‘n groter sê op die telbord begin kry het deur ook van sy halwe kanse af te rond. Die oorwinning is met ses drieë teen vier beklink.
Die flank Jaco-Collin (JC) Labuschagne (Pro-Ed Akademie) het ná vier minute vir die Namibiërs se eerste drie oorgedryf nadat die voorspelers tot naby die doellyn gevorder het.
Die WHS-vleuel Ethan Sinden was die volgende driedrukker, ná ‘n akkurate dwarsskop van sy skoolmaat, die losskakel William Beukes. Beukes se eerste doelskop was oor en die tweede was mis.
Senter JD Jankowitz (Whk Gimnasium) se drie, nadat stut Cashton Cloete (WHS) aan die agterpunt van ‘n lynstaan raakgevang en sy span met ‘n lopie op die voorvoet geplaas het, het die telling tot 17-3 laat opskuif, voordat die LSEN-span ‘n onderskepdrie uit hul eie kwartgebied gaan druk het.
Beukes het die senter Franko Engelbrecht (Moria) met ‘n oorslaanaangee vir sy drie deurgestuur, wat Jankowitz verdoel het (rustyd 31-10).
Kort ná rustyd was die Namibiërs ‘n tyd lank onder druk nadat hulle moes omdraai toe ‘n skop van skrumskakel Durand Louw (Moria) afgestorm is. Gedurende hierdie tyd het sy skoolmaat en flank Keyo Kruger ‘n geel kaart gekry.
Windhoek Gimnasium se sterk slot Buhlem Oelofsen het vanaf ‘n lynstaandryf gedruk en Mc-Rein van Wyk (plaasvervanger-losskakel, WHS) het verdoel (38-17).
Nog belowende opbouwerk is deur hanteerfoute ongedaan gemaak, tewrwyl die LSEN-span sy voete gevind het om met sy voor- én agterspelers die laaste twee drieë te behaal.
Mnr. Herman Grobler, die Namibiese hoofafrigter wat aan Moria Privaatskool op Outjo verbonde is, sê: “Op dag een moes ons eintlik teen die Valke ook gewen het (22-34), maar nou ja, ons het foute gemaak en ons verdediging was nie van die beste nie. Ons het meer strafskope as die Valke gekry, maar ons het net nie ons kanse afgerond nie.
“In verskeie aspekte het ons teen die LSEN-span beter gevaar. Ons kon hulle eintlik verder gebêre het, maar ons het hulle kanse gegee om met teenaanvalle punte aan te teken wanneer ons konsentrasie nie skerp was nie.
“Ons hanteerwerk en lynstane en skrums was goed en ons kan skade aanrig. Almal hier praat oor ons goeie skrum- en dryfwerk.
“Ons het darem nie noemenswaardige beserings nie, die ouens is reg vir Vrydagoggend se wedstryd teen Zimbabwe. Ons het net ‘n paar goedjies waarop ons graag sal wil verbeter.”
• Gisteroggend se ander uitslae by die o.18 Akademieweek: Die Griffons klop Zimbabwe met 31-12; Luiperds klop Grens-platteland met 26-7.
Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article