Rooi Bulle teen Filistyne: Beide soek terugkeerpad

Klubrugby
Die afrigterspanne aan beide kante sou laas naweek positiewe aspekte raakgesien het om op voort te bou.
Andrew Poolman

Herman Lintvelt, afrigter van United-rugbyklub, was in staat om sy wedstrydgroep bykans onveranderd te hou vir Saterdag se belangrike wegwedstryd teen FNB Rehoboth in die Namibië Rugby-unie se premierliga.

Dié wedstryd (afskoptyd 15:45) sal regstreeks deur NTV se produksiespan gebeeldsend word vanaf die St. Joseph-skoolveld, wat deur die NRU goedgekeur is om vir die eerste keer as Rehoboth se tuisveld gebruik te word.

United moes verlede naweek in die openingsrondte vrede maak met ‘n nederlaag in die laaste minuut van hul derby teen FNB Wanderers, toe haker Edward Drotsky van ‘n lynstaandryf die wendrie gedruk het (24-27).

Twee United-spelers wat gedurende die wedstryd die veld met beserings verlaat het, het beide intussen herstel om hul plekke vir die reis na Rehoboth te behou. Die stut Otja Auala het eers ‘n aanskoulike drie afgerond wat in sy eie helfte begin het, voordat sy plaasvervanger Kamaa Kajau ook van naby af oor Wanderers se doellyn vir ‘n vyfpunter gebeur het.

United se heelagter Enrique Husselmann het vir die tweede helfte na skrumskakel verskuif toe Elzandro van Wyk af is, maar beide is reg om hul plekke in te neem, het Lintvelt gister bevestig.

Die enigste verandering aan die Filistyne se beginspan is dat die slot Zander Bronkhorst weens ‘n ander verpligting onbeskikbaar is en vervang word deur Sven Albrightson, wat ook reeds teen Wanderers speelkans gekry het.

Te danke aan hul vier drieë en nederlaag met minder as sewe punte het United twee ligapunte bygevoeg, wat die bloues tans vyfde op die puntelys plaas. Die Filistyne sal gemotiveerd wees deur hul vertoning teen hul aartsvyand en die wete dat enkele beslissings deur die wedstrydbeamptes maklik die skaal sterker in hul guns kon geswaai het.

• Die gasheerspan Rehoboth se afrigters Brian Titus en Patrick Ludick sou gister nog ‘n paar finale oorwegings doen in die nasleep van hul openingsnederlaag teen FNB Kudus laas naweek op Walvisbaai.

Die jong spelersgroep van die Rooi Bulle het vroeg voorgeloop en het tot laat in die eerste helfte nog hul man gestaan, maar die heelwat groter diepte in Kudus se groep – veral met manne soos Denzo Bruwer, Lloyd Jacobs en Adriaan Ludick op die reserwebank – het bygedra tot die eindtelling van 20-45.

Beserings aan die binnesenter Miquel Busch en slot Tony Isaaks moes intussen in ag geneem word, terwyl slot Charl Freygang ook nie teen United beskikbaar sal wees nie.

Titus sê sy manne sal weer die bul by die horings pak. Hy skep moed uit die goeie dissipline wat sy jong span gewys het wanneer Kudus hulle probeer intimideer het.

Die Rooi Bulle is ná die openingsnaweek onderaan die puntelys van nege spanne, maar sal geloof hê dat hulle ondanks ‘n herboufase vir enige opponent mag kans sien. Die vleuels Dolano Vries en Manfred Garoeb het reeds gewys hulle is aanvalswapens wat vir niemand hoef terug te staan nie.

Romario de Koker is die aangewese skeidsregter vir die wedstryd.

 

UNITED RUGBYKLUB I

1 Otja Auala

2 Dandre Schreuder

3 Jano Otto

4 Sven Albrightson

5 Leon Mutonga

6 Richard Mupewa

7 Thehard Lintvelt

8 Ben Burger

9 Elzandro van Wyk

10 Hanreco van Zyl

11 Jurgen Meyer

12 DJ Holtzhausen

13 Suramie Kambombo

14 Jandre Esterhuyzen

15 Enrique Husselmann

Reserwes: 16 Kristopher Peacock, 17 Simon Alweendo, 18 Kamaa Kajau, 19 Gerhard Steenkamp, 20 Aydan Angermund, 21 William Klazen, 22 Soobramoney Sammy, 23 Joshua Moller.

 

FNB REHOBOTH I

1 Jeremy-Paul Cloete

2 Kevin Cloete (kaptein)

3 Titus Mathias (onderkaptein)

4 Leeroy McNab

5 Daymeen Bezuidenhoudt

6 Raul Arebeb

7 Deevan Mathys

8 Dihlen Daries

9 Jason Farmer (onderkaptein)

10 Coburn Claasen

11 Manfred Garoeb

12 Keathan Freygang

13 Daniel Bezuidenhout

14 Dolano Vries

15 Sakkeus Thomas

Reserwes: 16 Figo Ashipala, 17 Diamantino Mall, 18 Grant Cloete, 19 Jhamal Witbooi, 20 Chase Diergaardt, 21 Shaheed Husselman, 22 Digo Ashipala, 23 Rivaldo Swartbooi.

 

ELDERS

By Wanderers: FNB Wanderers tn FNB Dolphin (15:45). Skeidsregter Danie Koen.

By Suburbs Park: FNB Western Suburbs tn FNB Grootfontein (15:45). Skeidsregter Anthonie de Greeff.

By Dr. Lemmer-veld op Rehoboth: FNB Reho Falcon tn FNB Unam (15:45). Skeidsregter Zaid Isaacs.

(Elk van die wedstryde word voorafgegaan deur die NRU reserweliga-kragmeting tussen die onderskeie tweedespanne).

• Ligabepalings, uitslae en die puntestand by www.fnbrugby.my.na

[email protected]