Rassie vertrou sy Loftus-troepe

Rugby
Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, het sy vertroue gewys en 'n onveranderde span aangewys wat Ierland komende Saterdag in die tweede toets in Durban pak.

Die Bokke het Ierland op Loftus Versfeld met 27-20 oorskadu. Daar was heelwat menings oor die Bokke se speelstyl, foute wat op die veld begin is en die manier waarop Ierland laat in die wedstryd terug in die prentjie gekom het.

Die SA afrigtingspan glo egter hulle het die regte 23 spelers om in Durban die kort reeks met 2-0 in te palm.

Die aangewese beginspan is ook die mees ervare Springbok-kombinasie in die geskiedenis, en oortref die 987 wedstryde wat verlede jaar in die Wêreldbeker-eindstryd teen Nieu-Seeland op die veld gedraf het. Hierdie Bokspan het nou 990 wedstryde op die getuigskrif.

Eben Etzebeth begin in sy 122ste toets en is op koers om Bryan Habana (124) en Victor Matfield se rekord op 127 in te haal.

Damian de Allende en Jesse Kriel sal ‘n nuwe Springbok-rekord in die middelveld opstel wanneer hulle in hul 30ste toets saam uitdraf, om Jean de Villiers en Jaque Fourie se merk verby te steek.

Beginspan: 15 Willie le Roux, 14 Cheslin Kolbe, 13 Jesse Kriel, 12 Damian de Allende, 11 Kurt-Lee Arendse, 10 Handré Pollard, 9 Faf de Klerk, 8 Kwagga Smith, 7 Pieter-Steph du Toit, 6 Siya Kolisi (kaptein), 5 Franco Mostert, 4 Eben Etzebeth, 3 Frans Malherbe, 2 Bongi Mbonambi, 1 Ox Nche.

Plaasvervangers: 16 Malcolm Marx, 17 Gerhard Steenekamp, 18 Vincent Koch, 19 Salmaan Moerat, 20 RG Snyman, 21 Marco van Staden, 22 Grant Williams, 23 Sacha Feinberg-Mngomezulu.

– SuperSport