Pumas kies hul twee Namibiërs

Rugby
Twee Namibiese toetsspelers is ingesluit in die Pumas-toergroep wat komende Saterdag ‘n vriendskaplike rugbywedstryd teen die Welwitschias in Windhoek kom speel.

Die nasionale rugby-oefengroep het laas naweek in Walvisbaai op onoortuigende wyse met 22-19 teen Uganda gewen, met Danco Burger ‘n sentrale figuur wat twee drieë gedruk het toe hy op binnesenter begin het. Met Godwin Silvanus se besering is hy later na losskakel geskuif en het ook die skopwerk oorgeneem, met sy doelskop vanaf die kantlyn ná Armand Combrinck se maaldryfdrie ‘n treffer, voordat hy boonop ná die toeter die wenpunte met ‘n strafdoel vanaf die tientreelyn moes aanteken.

Die Namibië Rugbyunie wou die twee gekontrakteerde Pumas-spelers Tiaan de Klerk (slot) en Jay-Cee Nel (heelagter of senter) betrek het in die voorbereiding vir die toets teen Italië op Vrydag 27 Junie, asook die kwalifiserende Wêreldbekertoernooi in Uganda volgende maand.

Dit is egter ook bekend dat die Pumas nie noodwendig gretig is om die twee vrystelling vir die deurslaggewende Namibiese toer te gee nie. Nel, wat sy toetsdebuut in Julie 2024 in Uganda gemaak het, en De Klerk (lid van die 2023 Wêreldbekerspan na Frankryk) is gister beide as lede van afrigter Jimmy Stonehouse se Pumas-toergroep na Windhoek bevestig.

Aan die Namibiese kant is die insluiting van Cliven Loubser en André van der Berg wat ná hul klubseisoene in die VSA en Frankryk aangesluit het, die betekenisvolle veranderinge aan die agterlyn wat teen Uganda opgedraf het.

Voorlangs bring Ruan Ludick ook toetsondervinding as slot, met sy broer Adriaan Ludick op die bank ná sy eerste seisoen in Roemenië.

Die Welwitschias (teen Airlink Pumas)

15 Cliven Loubser (Anthem Rugby Carolina, VSA), 14 Danie van der Merwe (Wanderers), 13 Alcino Izaacs (Unam), 12 Danco Burger (Wanderers), 11 Jurgen Meyer (Wanderers), 10 André van der Berg (US Limoges, Frankryk), 9 Jacques Theron (Wanderers), 8 Adriaan Booysen (Wanderers), 7 Max Katjijeko (CSA Steaua Bucuresti, Roemenië), 6 Prince !Gaoseb (kaptein, CSA Steaua Bucuresti, Roemenië), 5 Ruan Ludick (Wanderers), 4 Oliver Kurz (Rissho Universiteit, Japan), 3 Haitembu Shikufa (Luiperds), 2 Armand Combrinck (Maties), 1 Jason Benade (Unam).

Reserwebank: Otja Auala (Unam / Rhino Rugby Academy, Kaapstad), Gerhard Thirion (Budowlani Lublin, Pole), Sidney Halupe (Wits University), Adriaan Ludick (CSM Baia Mare, Roemenië), Johan Luttig (Grootfontein), Peter Diergaardt (Rugby Torino, Italië), Joe Losper (Wanderers), AJ Kearns (Unam), Godwin Silvanus (CSA Steaua Bucuresti, Roemenië), Quirione Majiedt (Unam), Sheron Rossouw (Wanderers).