O.19-liga: Hier is topkandidate se lys skoolverlaters
Skolerugby
Elkeen van 2025 se topvyf spanne se kaptein was 'n senior speler wie se plek volgende jaar gevul sal moet word.
Die meeste van die rugbyskole wat vanjaar in die topvyf van die My Zone NSSR onder 19 Superliga geëindig het, behoort optimisties te wees oor die skietgoed wat vir volgende jaar oorbly.Deel van die jaarlikse siklus in die nuwe rugbyseisoen is uiteraard ook om die spelers wat uit die jonger ouderdomsgroepe by die o.19’s aansluit, se talent by die senior groep te integreer.
WBPS (vyfde)
Namib Diesel Walvisbaai Privaatskool het laas Saterdag in Windhoek die o.19 A-liga se eindstryd teen sy buurspan De Duinesig gewen (23-17), nadat hy rustyd met 11-3 voorgeloop het.
WBPS het die liga in die vyfde plek afgesluit en as die A-ligawenner is dié posisie as beste van die onderste vier gekonsolideer.
Die Naartjies het agt skoolverlaters wat nie aanstaande jaar beskikbaar sal wees nie. Twee van hulle is die senter Baron van Wyk en slot Herman Lombard, wat beide voor die uitklopfase met onderskeidelik ‘n gebreekte sleutelbeen en ‘n enkelbesering uitgeskakel is.
Sonder Lombard is die Namibiese o.18-haker vanjaar, Tiaan van der Westhuizen, tot WBPS se kaptein bevorder. Sy skolerugbyloopbaan is ook nou afgesluit, saam met ander senior spanmaats Stefan Lotriet (stut), Alejandro Noabeb (slot), Valintino Niigambo (slot/losvoorspeler), Adriaan Boonzaaier (losskakel) en Theuns Alberts (senter).
Tsumeb (vierde) en Whk Gim (derde)
King Price Windhoek Gimnasium het die o.19 Superliga bronsfinaal Vrydagaand met 57-34 teen Compack Tsumeb Gimnasium beklink (rustyd 31-17).
Tsumeb se agtsteman en kaptein Russel Bartlett het twee drieë gedruk, wat sy totaal vir die seisoen tot 15 opgestoot het. Hy het vanjaar ook Namibië o.18 verteenwoordig en was ‘n staatmaker vir die maroen span.
Tsumeb se ander driedrukkers was slot CJ Button en flank Jaun van Wyk.
Tsumeb se skoolverlaters is Bartlett, Juan Brits (loskopstut) en Pieter Potgieter (haker), Willem Nel (slot), Charl Cilliers (skrumskakel), wat Vrydagaand sy 50ste wedstryd vir die eerstespan gespeel en nege skoppunte behaal het, Jean Devenish (senter) en Grant Ras (losskakel).
• Windhoek Gimnasium se driedrukkers in die bronsfinaal was stut Gert Pretorius, senter JD Jankowitz, vleuel Oliver Seager (3), senter Pieter-Stephan Stassen, slot Buhlem Oelofsen, flank Lihan Horn en plaasvervanger-vleuel Alonso du Toit. Jankowitz het sy skoppunte vir die jaar met nog ses doelskoppe aangevul.
Die Gim Leeus se skoolverlaters is hul kaptein en agtsteman Vincent Scholtz, stut Rudolph Harmse, haker Jayvin du Plessis (almal Namibië o.18 vanjaar), skrumskakel Jan-Daniel de Villiers en senter Pieter-Stephan Stassen.
WHS (tweede) en Moria (kampioen)
Jan Dames het ‘n seldsame nederlaag met ‘n WHS-span in ‘n eindstryd gely, maar bly een van die mees suksesvolle o.19 Superliga-afrigters met titels in 2007, 2008, 2009, 2010, 2011, 2012, 2016, 2023* (gedeel) en 2024.
Uit sy WHS-span het kaptein en agtsteman Pieter-Jan Strydom sy skoolloopbaan afgesluit en sy kop staan glo in die rigting van ‘n UXI-rugbyakademie in Pretoria.
Dominique Isaacs (skrumskakel; Namibië o.20 in 2025), Ethan Sinden (senter; Namibië o.18 vanjaar), Steven van Wyk (vleuel), Xavier Louw (haker), Jaden Bock en (stut) en die slotte Keathan Klazen, Keanan Louw en Praise Kamonga sal nie terugkeer om die opposisie se gal te werk nie, terwyl William Beukes (heelagter; Namibië o.18 in 2024 en 2025) glo nog onseker is of hy vir nog ‘n jaar o.19-skolerugby gaan speel.
• OK Foods Moria se toewyding om vanjaar nie net in die premierliga deel te neem nie, maar boonop die Superliga-trofee vir die eerste keer in sy bestaan in te palm, het ‘n unieke inskrywing in die annale van Namibiese skolerugby gemaak.
Moria het vanjaar saamgespan met Edugate van Otjiwarongo, asook Otjiwarongo Sekondêre Skool. Hoewel nie een van die drie skole genoeg spelers vir ‘n o.19-span sou hê nie, het hul wenkombinasie veral gedurende die uitklopfase onkeerbare momentum opgebou.
By Moria is die kaptein en heelagter Franko Engelbrecht (Namibië o.18 vanjaar) en haker William Pienaar die skoolverlaters. By Edugate is vaskopstut Wian Maartens, slot Alexander Bertelsman en vleuel Ngarune Muukau se dae van skolerugby verby.
Nog vier senior o.19-spelers wat klaarmaak nadat hulle vanjaar met tuis- of afstandsonderrig vir skoolvakke ingeskryf was, is die bulflank Ben Mostert (twee drieë in die eindstryd), die Namibiese o.20-speler Jano Erasmus en sy sentermaat Bertus Narib, asook Jazario Drotsky, wat in die finaal as vleuel opgestuur was.
Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article