Motivering help Unam wen teen United
Afrigter Herman Lintvelt reken Montego United se spelers was geestelik nie skerp ingestel nie toe hulle Vrydagaand in die Namibië Rugby-unie (NRU) se premierliga teen FNB Universiteit van Namibië verloor het.
Unam (vyfde op die puntelys) het met 37-12 in die Unam-stadion oorheers. Vanweë ‘n uitstel in die aanvanklike wedstrydbepalings is die twee klubs se ontmoetings net drie naweke uitmekaar afgehandel, met die Filistyne wat op 22 Augustus hul tuiskragmeting met 36-26 gewen het.
United se plek in die topvier bly veilig in die opbou na die semifinale, al het FNB Kudus hulle nou vir die tweede posisie verbygesteek.
“Ons het omtrent ses eerstespanspelers wat weens beserings nie beskikbaar was nie, maar wat reg behoort te wees vir ons volgende wedstryde. Unam het goed gespeel, maar ek reken ons was nie geestelik heeltemal reg ingestel nie,” sê Lintvelt.
“Dis moeilik in hierdie gedeelte van die seisoen, wanneer jy weet jy is deur na die semifinale en om dan die manne te motiveer (vir wedstryde waarin uiteindelik nie veel op die spel is nie).”
Lintvelt sê Unam se vlak van motivering kon in hul toewyding op die verdediging gesien word. “En dan het hulle natuurlik ‘n baie vaardige agterlyn met spoed op die punte.
“Ons het twee ligawedstryde oor – teen FNB Western Suburbs en FNB Wanderers. Ons kan moontlik sommige individue nog teen Suburbs (negende) ‘n ruskans gee, maar ‘n ou sal graag teen Wanderers goeie momentum vir die semifinale wil begin opbou.
“DJ Holtzhausen (senter, soms kaptein) en Ben Burger (agtsteman) is die twee beseerdes wat ons op die oomblik fyn bestuur, afgesien van Thehard Lintvelt (flank) wat ná sy knieoperasie vir die res van die seisoen uit is.”
Twee van Unam se losvoorspelers, McHenry Kambatuku (agtsteman) en Jayden Links wat van die reserwebank opgestuur is, het elkeen twee drieë gedruk, met een elk deur die twee aanwinste van Grootfontein, senter Lazarus Joseph en vleuel Keno Shetukana. Met die voet het heelagter Aljarreau Zaahl twee doelskoppe en ‘n strafdoel bygevoeg.
Vir United het heelagter Jurgen Meyer en vleuel Irongwa Atshivudhi hul enigste drieë gedruk, met een doelskop deur losskakel Hanreco van Zyl.
Dié sukses vir afrigter David Philander se Unam-groep is egter te min en te laat, en met 14 ligapunte agter die topvier is dit reeds neusie verby om die uitklopfase te haal.
Kudus vat punte in Khomasdal
Die verdedigende kampioen FNB Kudus het van derde af een posisie opgeskuif met hul volpunt-oorwinning (66-15) teen FNB Western Suburbs in Khomasdal.
Die Walvisbaaiers onder afrigterskap van Cameron Langenhoven en Roger Thompson het tien drieë teen twee gedruk.
Tien verskillende driedrukkers getuig van Kudus se oorheersing teen die span wat hom aan die onderpunt van die nege premierligaklubs bevind. Uit die beginspan was bykans die hele agterlyn op die lys, naamlik heelagter Lloyd Jacobs, vleuels Aston Mukwiilongo en Lucio Isaacs, binnesenter Quirione Majiedt en skrumskakel Ray-Shawn Shoombe, asook agsteman Lezardo Vos. Nog vier plaasvervangers het vyfpunters behaal, naamlik Joshwin Solomon, Utaara Uaaka, Kyle Wentzel en Cejay Coetzee. Losskakel Aurelio Plato het agt doelskopp deur die pale laat seil.
Western Suburbs kon net met drieë deur vleuel James Matroos en slot Gerhardt Vaino antwoord, asook ‘n doelskop en strafdoel deur heelagter Wyatt Brooks.
Wanderers verby sestig
FNB Wanderers het sy posisie boaan die puntelys gekonsolideer met ‘n tuisoorwinning van 62-12 teen FNB Rehoboth in Pionierspark.
Die kaptein en haker Edward Drotsky het uiteindelik vier drieë gedruk, maar die Wit Hingste kon in die eerste helfte nie die hoër ratte vind nie (rustyd 12-5) en hul momentum is gereeld ontwrig deur die string strafskoppe wat skeidsregter Anthonie de Greeff oorwegend teen die tuisspan toegeken het.
Drotsky en flank Kyle Nel was die enigste driedrukkers vir Wanderers in die eerste helfte. Ná rustyd het Drotsky onmiddellik vanaf die afskop deurgebreek en skaars 30 sekondes het verloop voordat heelagter Jaylon Carew in die regterhoekie oorgeduik het.
In die tweede helfte het Wanderers stelselmatig ‘n ronde vyftigtal op die telbord geplaas met ‘n driekuns deur Drotsky en verdere vyfpunters deur slotte Kistings Minyoi en JP Campbell, losskakel André van der Berg en vleuel Nandivatu Karuuombe.
Vir die Rooi Bulle het vleuel Raul Arebeb en senter Manfred Garoeb hul drieë gedruk, met een suksesvolle doelskop vanaf die linkerkantlyn deur heelagter Deevan Mathys.
“Ons het dit nie reggekry om ons struktuur en vaste fasette op Rehoboth af te dwing nie, maar ons vat dit een wedstryd op ‘n slag. Sommige van die strafskoppe was onnodig en binne ons beheer, soos vir onkantspel of ondersteunende spel by die losskrums, so ons kan dit op die oefenveld regskaaf voor ons volgende wegwedstryd teen Kudus,” het Drotsky agterna gesê.
Wanderers het nou 13 wedstryde op ‘n streep gewen sedert hul naelskraapse nederlaag in die openingsrondte (24 April) met 32-37 in die noorde teen FNB Grootfontein.
Wen vir Swakopmunders
FNB Dolphin het met een posisie van sewende na sesde geklim met hul oorwinning van 42-29 teen FNB Reho Falcon op die Dr. Lemmer Hoërskoolveld.
Die Swakopmunders het ses drieë gedruk vir ‘n bonuspunt, met losskakel Maughan Jarman wat ses doelskoppe behaal het. Die driedrukkers was heelagter Luchina Geingob (2), senters Renardo Doeseb en Jerome Immanuel, skrumskakel Reggie Brandt en agtsteman Cameron Markus.
• Bly op die hoogte van wedstrydbepalings, uitslae en die puntestand by www.nrurugby.my.na/



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article