Min reken United kan Wanderers in derby skok
Klubrugby
Die derby se hoofwedstryd word regstreeks op NTV gebeeldsend.
Die onoorwonne voorloper FNB Wanderers is loshande die gunsteling in sy derby Saterdag teen Trustco United, maar soos tradisioneel aanvaar die Filistyne altyd die uitdaging teen die Wit Hingste.“Ons is verreweg die buiteperd en Wanderers sal moeilik geklop word, met alles in hulle guns. Hulle sal moeilik geklop word; hulle het die spelers en is onoorwonne op dreef in die NRU premierliga. Niemand gee ons ‘n kans om te wen nie en ons verkies dit so. Hopelik is dit ‘n goeie wedstryd,” sê Herman Lintvelt, hoofafrigter van United.
Vir hul besoek aan Wanderers – ‘n jaarlikse hoogtepunt op die rugbykalender – het United sy spankeuse redelik naby gehou aan die kombinasie wat laas naweek ‘n verrassende nederlaag in sy wegwedstryd teen FNB Rehoboth gely het (28-38). United is derde op die puntelys.
Sedert die gevoelige verlies toe Hanreco van Zyl teen FNB Western Suburbs sy enkel gebreek het, het die veelsydige Ricardo Swartz heelwat skoppunte aangeteken, maar Swartz sal die derby op die reserwebank begin vanweë die terugkeer van DJ Holtzhausen in die 10-trui.
Die haker Dandre Schreuder het in die toegelate periode vir verskuiwings vanaf Wanderers aangesluit by United, waar sy oom Morné in die vroeë 2000’s as losskakel ‘n puntemasjien was. Dandre se United-debuut was teen Rehoboth, terwyl die ander haker JT Basson ook terug in die 23-tal is ná ‘n ligte enkelbesering teen Western Suburbs, teen wie hy drie drieë afgerond het.
Wanderers se afrigter Darryl de la Harpe sê oor sy spankeuse: “Denzo Bruwer is op die reserwebank om hom net vars te hou (vir die seisoen); hy was baie besig met werk en het ook las van ‘n enkel gehad.
“Ons gee Kian Beyer (haker) ook kans om ‘n ligte besering ten volle af te skud en wil nie ‘n kans waag nie.
“Nandivatu Karuuombe keer terug van ‘n besering en sal vir ons tweedespan uitdraf.
“Ons nasionale o.20-spelers is terug en dus begin Jurgens Meyer as linkervleuel. JP Campbell, Joshwin Solomon en SW Kuhn sal tweedespan uitdraf en ook later vir die eerstes opgestuur word. Ons is baie excited om hulle in die wit trui te sien!”
Die spanne:
FNB Wanderers: 1 Hans Ngoshi, 2 Edward Drotsky, 3 Liam Compion, 4 Ruan Ludick (onderkaptein), 5 Rainer Augustyn, 6 Sheron Rossouw, 7 Joe Losper, 8 Adriaan Booysen, 9 Jacques Theron (kaptein), 10 Johnny Mwenyo, 11 Jurgen Meyer, 12 Danco Burger, 13 Owen Hawanga, 14 Warren Ludwig, 15 Tolley Tjipute
Trustco United: 1 Johan Brockman, 2 Dandre Schreuder, 3 Kamaa Kajau, 4 Zander Bronkhorst, 5 Leon Mutonga, 6 Feddy Mazila, 7 Aydan Angermund, 8 Thehard Lintvelt, 9 Elzandro van Wyk, 10 DJ Holtzhausen, 11 Christo Gresse, 12 JD Nel (kaptein), 13 Soobramoney Sammy, 14 Jandre Esterhuyzen, 15 Enrique Husselmann.
Reserwes: JT Basson, Brandon Namaseb, Tanaka Wadzingenyama, gerhard Steenkamp, Sven Albrightson, Damian Mouton, Brandon Besser, Ricardo Swartz.
• Die derby se premierliga-wedstryd word regstreeks op NTV en sy webblad https://oneuptwo.com gebeeldsend.
• Wedstryde elders (tuisspanne eerste): FNB Dolphin tn Grootfontein; FNB Reho Falcon tn FNB Kudus; FNB Unam tn FNB Rehoboth.
• Die NRU puntetabel, uitslae, komende bepalings en nuus by www.fnbrugby.my.na/
Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article