Malan deur Walliese klub betrek

Rugby
Sportredaksie

Die Haaie-rugbyunie sal die Namibiese senter Le Roux Malan later vanjaar groet wanneer hy na die Walliese klubspan Cardiff aanbeweeg.

Die Haaie het die 27-jarige Malan einde verlede jaar gekontrakteer terwyl hy in Nieu-Seeland vir Hawkes Bay gespeel het. Die Natallers het hom vir diepte laat kom met die oog op die Verenigde Rugbykampioenskap nadat Lukhanyo Am vrygestel is om sy loopbaan in Japan voort te sit.

Malan het hom goed van sy taak gekwyt die kere wat hy by die Haaie speelkans gekry het, in kombinasie met manne soos André Esterhuysen en nog ‘n gebore Namibië, Jurenzo Julius.

Malan het volgens Rapport se inligting die laaste tyd suksesvolle gesprekke met Cardiff gehad, wat deur die gewese Italië-toetsslot Corniel van Zyl afgerig word. Van Zyl is verlede week heeltyds in die pos van hoofafrigter van Cardiff aangestel nadat hy in dié pos waargeneem het.