Lig gesoek in die duister vooruitsigte

Rugby
Andrew Poolman
Die vooruitsigte vir rugbylande soos Namibië, België, Brasilië, Paraguay, Kenia en ander wat nie vir die 2027 Wêreldbeker gekwalifiseer het nie, en ook nie in die komende nuwe Wêreldrugby Nasieskampioenskap se twee afdelings ingesluit is nie, is ‘n bron van kommer vir besorgde waarnemers van die sport.

Die Walliese broers Rob en Will Owen, skeppers van die gewilde YouTube-kanale Squidge Rugby en More Squidge Rugby waar hulle met ‘n lighartige humoristiese styl die strategie en taktiek van rugbyspanne op alle vlakke ontleed, is sterk ondersteuners dat die sport ook in “kleiner” nasies ontwikkeling en blootstelling verdien.

Op een van hul episodes dié week het Rob en Will die Wêreldrugby Nasieskampioenskap vir 2026 se vooruitsigte begin deurpraat. Die video is opgelaai voordat Woensdagaand se uitslae by die Wêreldbeker 2027 finale kwalifiserende toernooi in Dubai bekend was.

Vir Samoa was sy gelykopuitslag teen België (13-13) genoeg om op grond van sy 12 ligapunte vir die 2027 Wêreldbeker in Australië te kwalifiseer – en ook sy plek in volgende jaar se B-afdeling van die Wêreldrugby Nasieskampioenskap in te neem.

België (11 punte), Namibië (6) en Brasilië (2) het by die afgelope repechage-toernooi in Dubai nie die paal gehaal nie. Vir Namibië was sy oorwinning met 40-31 teen die vasberade Suid-Amerikaners ‘n positiewe afsluiting, maar steeds ‘n herinnering dat hy oor die afgelope jare in internasionale kompetisie veld verloor het.

Will Owen het in die genoemde episode verklaar dat beide hy en sy broer groot ondersteuners van Namibiese rugby is.

“Hulle is soort van ons gunsteling span om by Wêreldbekers te ondersteun. Ek voel werklik hartseer dat hulle nie vir die volgende Wêreldbeker gekwalifiseer het nie, want hulle is so ‘n genotvolle span om te sien speel en hulle het soveel wonderlike spelers.

“Toe hierdie Nasieskampioenskap bekendgestel is, was een van die positiewe vooruitsigte vir my dat ‘n span soos Namibië van meer internasionale wedstryde verseker kon wees.

“Tussen die 2019 en 2023 Wêreldbekers het Namibië minder as tien volwaardige toetse gespeel (inderdaad elf). Ja, en dis nie goed genoeg nie.

“Hoe is jy op daardie punt veronderstel om in ‘n Wêreldbeker kompeterend te wees? En weer, niemand verwag dat Namibië die toernooi moet wen nie, en dis oukei. Maar jy wil sien dat hulle kompeterend is en verbeter en gereeld toetsrugby speel.

“Hierdie wêreldliga kon beteken dat hulle ‘n geleentheid kon kry om sulke wedstryde te speel. Nou is hulle nie ingesluit nie. Hulle is uitgesluit. Dis wonderlik vir Zimbabwe, briljant.”

Owen sê hy het moed begin verloor vir die hoop wat hy tevore gekoester het dat Vlak Twee-rugbylande op die regte pad was om die sport se Wêreldbeker ewe onvoorspelbaar en propvol verrassende uitslae as in sokker te maak.

“Maar nee, dit voel of Wêreldrugby besluit het ons kan meer geld maak as hierdie top-12 lande elke jaar teen mekaar speel.”