Laat Delron-skepdoel beklink riller by United

Klubrugby
In die stryd boaan die puntelys het FNB Wanderers onoorwonne voortgeseil deur FNB Kudus hul tweede neerlaag van die seisoen toe te dien.
Andrew Poolman
Ná sewe wedstryde elk sal FNB Wanderers (39 punte) en FNB Kudus (29) nie meer uit die eerste en tweede posisies op die puntelys van die NRU premierliga vir 2025 gedruk kan word nie, maar drie spanne sal komende naweek in die laaste rondte groepwedstryde sake uitspook vir die ander twee plekke in die semifinale.

FNB Unam (21 punte), FNB Grootfontein (21) en Trustco United (20) is deeglik bewus van wat vir hulle op die spel staan in hul laaste wedstryde komende naweek teen onderskeidelik Kudus, FNB Rehoboth en FNB Dolphin.

In verlede jaar se semifinale het die uiteindelike kampioen Wanderers vir Kudus uitgeskakel, terwyl Unam die aanslag van Grootfontein beëindig het wat vir die eerste keer in die topvier van die premierliga klaargemaak het.



Kudus 10-28 Wanderers

In Walvisbaai se Jan Wilkenstadion kon Kudus Saterdag nie daarin slaag om die wurggreep van die onoorwonne voorlopers af te skud nie, wat rustyd reeds met 21-10 voorgeloop het.

Die Walvisbaaiers kon selde die Windhoekers onder werklike druk plaas, terwyl Wanderers se kaptein Jacques Theron agterna gesê het sy span was daarop ingestel om munt te slaan sodra hul opponente enige fout begaan.

Vir Wanderers het Danco Burger sy sentermaat Danie van der Merwe vir ‘n drie deurgestuur, terwyl slot Ruan Ludick van ‘n tikskop naby die doellyn die flank Joe Losper se maklike drie geskep het.

Losskakel Denzo Bruwer het met ‘n flink onderskepping die wenners se derde drie gedruk en toe met sy derde doelskop geslaag.

Die tweede helfte was minder produktief, met ‘n skoon breekslag deur Van der Merwe wat nie afgerond is nie toe plaasvervanger Nandi Karuuombe nie die binne-aangee van vleuel Jurgen Meyer kon raakvat nie.

Wanderers se vierde drie het eers in die laaste minuut gekom, toe Kudus se Aston Mukwiilongo op die aanval was en verby die laaste man Johnny Mwenyo wou skop. Die heelagter het egter op sy kwartlyn die bal in die hande gekry en verby almal in sy pad gehardloop vir die drie wat hyself verdoel het.

Kudus se kaptein Cameron Langenhoven, ‘n uitblinker as flank, het die veld in die tweede helfte met ‘n armbesering verlaat en het gesê sy span sal hoop om in hul besoek aan Unam-stadion beter te presteer.

Vir Kudus se enigste drie het agtsteman Ja-Tamson van der Berg van naby af oorgedryf, terwyl losskakel Kyle Wentzel ‘n doelskop en strafdoel behaal het.



United 32-33 Unam

By Gemsbokpark was dit maak of breek vir twee trotse aanspraakmakers vir wie die semifinaal steeds in die weegskaal is.

Die einde was dramaties toe Unam se plaasvervanger-losskakel Delron Brandt met die laaste beweging van die wedstryd ‘n skepdoel deur die pale gejaag het wat sy span met ‘n enkele punt (33-32) laat wen het.

JD Nel, United se kaptein wat van senter na agtsteman verskuif is, se hardnekkige Filistyne het egter met twee ligapunte uit die stryd getree deur vier drieë te druk en met minder as sewe punte te verloor.

Vir United is ‘n strafdrie toegeken terwyl JD Nel, flank Thehard Lintvelt en slot Leon Mutonga ook oor die doellyn is. Skrumskakel Enrique Husselman (doelskop) en heelagter Ricardo Swartz (doelskop en twee strafdoele) het die skopwerk gedeel.

Unam se driedrukkers was die flink skrumskakel AJ Kearns (2) en heelagter Aljarreau Zaahl, terwyl Zaahl se drie strafdoele en drie doelskoppe ook sy span binne bereik gehou het tot Brandt se wenpunte gekom het.



Rehoboth 29-28 Dolphin

Nog ‘n wedstryd wat met net ‘n enkele punt gewen en verloor is, was op die Rehoboth Hoërskool-veld tussen twee spanne wat reeds uit die wedloop is.

FNB Rehoboth het ‘n drieëbonuspunt bygevoeg danksy die vyfpunters deur vleuel Manfred Garoeb, losskakel Henrique Olivier, skrumskakel en kaptein Miquel Busch en slot Titus Mathias. Busch (doelskop en strafdoel) en sy broer Franklin Busch (twee doelskoppe) het ook die knoop gehelp deurhaak.

Dolphin se driedrukkers was senter Jason Beukes, heelagter Ethan Hendricks en flank Conwill Draghoender. Senter Sammy Poulton se bydrae was twee doelskoppe en drie strafdoele.



FNB Western Suburbs 33-24 FNB Reho Falcon

In Khomasdal het Suburbs se groen en wit truie ‘n vasberade aanslag van hul suidelike besoekers afgeweer.

Skeidsregter Anthonie de Greeff het twee strafdrieë aan Suburbs toegeken, terwyl senter Morgan Esterhuizen (‘n drie), losskakel Geraldo Beukes (doelskop en vier strafdoele) die ander punte bygevoeg het.

Reho Falcon het drieë deur losskakel Casey Beukes, skrumskakel Dillon Kahmann en flank Martinus Nekundi behaal. Beukes het ook met drie doelskoppe en ‘n strafdoel die vlae laat lig.

• Puntetabel, uitslae, komende bepalings en nuus by www.fnbrugby.my.na/