Kurz (22) kan uit Japan die slotspens kom aanvul
Rugby
Die lewe in Japan het die jong gewese Windhoeker uit sy gemaksone gehaal.
Uit die 51 spelers wat deur die Namibië Rugby-unie (NRU) opgeroep is vir ‘n nasionale oefenkamp en voorbereiding op die internasionale seisoen, is die slot Oliver Kurz straks nie een van die bekendstes onder plaaslike rugby-ondersteuners nie.Die 22-jarige Kurz is twee meter lank en weeg 121 kilogram en speel tans vir Rissho-universiteit naby Tokio in Japan.
Met Tjiuee Uanivi wat sover bekend weens persoonlike redes onbeskikbaar vir die toetse in Junie en Julie sal wees, is Kurz een van diegene wat vir die eerste keer deur Namibië se afrigterspan nader geroep word.
Hy kan in die geselskap van slotkandidate soos Adriaan Ludick (CSM Baia Mare, Roemenië), Ruan Ludick (FNB Wanderers), Johan Luttig (FNB Grootfontein), Johan Retief (Krasny Yar, Rusland) en Tiaan de Klerk (Pumas) opgeweeg word, terwyl manne soos Max Katjijeko (CSA Steaua Bucuresti, Roemenië) en Riaan Grové (Stade Aurillac, Frankryk) moontlik eerder as losvoorspelers beskou word.
Van Parkies na Bok-geselskap
Kurz se rugbyloopbaan het in Windhoek by Laerskool Pionierspark begin. In 2017 het hy die Namibiese o.13 Cravenweekspan na Bloemfontein gehaal. Van sy spanmaats het ingesluit Owen Hawanga (nou by FNB Wanderers) wat ook vir die eerste keer vir die nasionale groep opgeroep is, en Jurenzo Julius, senter van die Sharks en SA o.20-span wat algemeen as ‘n toekomstige Springbok bestempel word.
“Ek was altyd die groot kind in die klas en rugby het dus maar natuurlik gekom. Ek het danksy ‘n beurs na Windhoek Afrikaanse Privaatskool aanbeweeg, voordat ek in dieselfde jaar (graad 7) die kans aangegryp het om by Hoërskool Outeniqua op George aan te sluit en my skoolloopbaan daar te voltooi.
“In my matriekjaar het ek die kans gekry om by die Westelike Provinsie in Kaapstad aan te sluit. Dit was vir my ‘n groot stap, om omring te word deur soveel internasionale sterre en Springbokke. Ons junior Curriebekerspanne het kapteins soos Sacha Feinberg-Mngomezulu en Paul de Villiers (nou Stormers-flank) ingesluit.”
‘Soos ‘n ander planeet’
Uit Japan het Kurz die aanbod van ’n vierjaar-rugbykontrak met Rissho-universiteit aanvaar, waar hy tans ook in datawetenskap studeer.
“Die liga hier kan vergelyk met die Amerikaanse kollegevoetballiga vergelyk word en as jou span die uitklopfase haal, kan jy maklik verwag om in ‘n stadion voor 30 000 mense te speel.
“Die lewe in Japan het my heeltemal uit my gemaksone gevat. Niks is dieselfde nie – taal, kos, kultuur, die manier van dink. Alles is vinniger en meer gestruktureerd en met ’n ander tipe dissipline en presisie. Jy moet aanhou groei, of ondergaan.
“Met tyd en baie geduld het ek die taal begin aanleer; genoegsaam om nou ‘n gesprek te verstaan wanneer hulle vinnig praat en ek kan selfs al bietjie lees. Dis vir my ‘n groot mylpaal.
“Ek het geleer dat taal vir Japanners nie net woorde is nie, maar inderdaad respek. As jy die moeite doen om iemand anders se taal aan te leer, wys dit jy is bereid om hulle wêreld te verstaan.
“Dit was moeilik om aan te pas by Saterdae sonder braaivleis, pap en wors en eerder ‘n dieet van vis, sop, rys en kossoorte wat ek meestal nie eens kan uitspreek nie. Mettertyd het ek die eenvoud van hul gesonde kosse begin waardeer.
“Die stad naby Tokio waarin ek woon, is ‘n massiewe plek; as jy van Windhoek of selfs Kaapstad kom, voel dit soos ‘n ander planeet. Dit het my nederig gemaak. Die sewe ure tydverskil maak dit eensaam en moeilik om kommunikasie met jou mense en jou vriende vol te hou, maar ek weet ek is hier vir my toekoms en vir almal wat in my glo.
“Japan het my sterker en meer geduldig gemaak. Elke oggend as ek opstaan, weet ek ek is op ‘n pad wat my vorm. Elke keer as ek op die rugbyveld gaan, dra ek die lesse saam met my.”
Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article