Kudus gemotiveerd vir meer sukses in 2026

Klubrugby
Die blou span se spelersgroep het reeds gedurende die afseisoen hul fiksheid begin opknap.
Andrew Poolman

Kudus gemotiveerd vir meer sukses in 2026

 

Walvisbaai se FNB Kudus-rugbyklub is oorgehaal om opnuut vanjaar ‘n hoë standaard te handhaaf en met beide sy eerstespan en tweedespan die klub se dubbele titels in die Namibië Rugby-unie se premierliga- en reserweliga-titels te verdedig.

Die aanwins van die opwindende skrumskakel Andrew James (AJ) Kearns wat gedurende die afseisoen vanaf FNB Universiteit van Namibië aangesluit het, is ‘n brokkie welkome nuus wat aanhangers van die blou span van nuuts af opgewonde oor die komende vooruitsigte sal maak.

Kearns het in 2024 sy eerste toetsrugby gespeel, met vele ondersteuners wat reken dat hy sedertdien meer speeltyd op die topvlak moes gekry het. Hy het verlede jaar ook ‘n draai by Budowlani Lublin in die Poolse Ekstraliga gemaak.

Die talentvolle Rayshawn Shoombe het hom die afgelope twee seisoene as die eerste keuse by Kudus gevestig en Kearns se aansluiting kan verder bydra om sy ontwikkeling verder te versnel. Beide

Met meer opsies soos die ervare Rayton Paulse asook JD Rossouw, die skrumskakel van die Namibiese junior span wat verlede jaar die Rugby Afrika O.2 Barthés-trofee in Zimbabwe gewen het, is die direkteur van rugby by Kudus, Roger Thompson, geseënd met opsies vir die 9-trui.

Kudus het reeds gedurende Desember en Januarie met fiksheidswerk vir die komende seisoen begin – met Kearns bloot een van vele nuwe gesigte op die oefenveld.

Die Walvisbaaiers het verlede jaar vir die eerste keer in hul klub se bestaan die NRU premierliga beklink, toe hulle FNB Wanderers se onoorwonne seisoen in die eindstryd met ‘n aanskoulike sege van 50-32 bederf het.

Vroeër dieselfde dag het Kudus II ook met 49-41 aan die wenkant teen FNB Unam se tweede span in die NRU reserweliga-eindstryd geëindig, om die feesvieringe in die kusdorp nog verder lyf te gee.

Hoewel die tweede helfte van die 2025-seisoen in die JSB Gold Cup nie vir Kudus dieselfde hoogtes opgelewer het nie (FNB Grootfontein klop Wanderers in die premiereindstryd met 37-32; Wanderers II klop Kudus II met 44-34 in die reserwefinaal), is Thompson se manne oorgehaal om vanjaar geen moeite te ontsien om hul ondersteuners trots te maak nie.

In sy nuwejaarsboodskap het Kudus se voorsitter, Irvin Izaaks, ondersteuners vir hul geesdrif  en eenheid bedank. Izaaks het egter ook uitgewys dat die klub se visie verder as bloot oorwinnings op klubvlak strek, maar dat Kudus ook streef om ‘n steunpilaar in die heropbou van Namibiese rugby op internasionale vlak te wees.

 

Uitblinkers van 2025

Aan die einde van die 2025-seisoen is die gewilde vleuel / heelagter Aston Mukwiilongo as Kudus se Sportman van die Jaar bekroon. Sy spanmaats het hom ook as spelers se speler van die jaar vereer.

Ander trofeewenners was:

Sewesspeler van die jaar: Lucio Isaacs.

Junior sportman van die jaar: Josh Visagie.

Mees waardevolle speler: Justin Newman.

Beste agterspeler in die premierliga: Michael Koopman.

Beste agterspeler in die reserweliga: Nando Dentlinger.

Beste voorspeler in die premierliga: Ja-Tamson van der Berg.

Beste voorspeler in die reserweliga: Cliffie Cowley.

Uitstaande presteerder in die premierligafinaal: Michael Koopman.

Uitstaande presteerder in die reserweligafinaal: Nando Dentlinger.

Beste vordering: Ernesto Hein.

Mees toegewyde speler: Brandon Seister.

Meeste drieë deur ‘n voorspeler in die premierliga: Ja-Tamson van der Berg.

Meeste drieë deur ‘n voorspeler in die reserweliga: Roberto Lensley.

Meeste drieë deur ‘n agterspeler in die premierligas: Aston Mukwilongo.

Meeste drieë deur ‘n agterspeler in die reserweliga: Nando Dentlinger.

Meeste punte in die premierliga: Michael Koopman.

Meeste punte in die reserweliga: Josh Visagie.