Kudus en Grootfontein voor halfeindstryde skrikgemaak
Die verdedigende kampioen FNB Kudus het so byna die wenkbroue laat lig toe die Walvisbaaiers hulle Saterdag so byna in ‘n bloedneus teen FNB Rehoboth vasgeloop het.
Kudus, wat vooraf reeds verseker vir die semifinale was en wat derde op die puntelys klaarmaak, het uiteindelik wel hul wegwedstryd teen die Rooi Bulle met 23-20 gewen.
Die halfeindrondte wag komende Saterdag by die Hage Geingob-stadion in Windhoek, waar Kudus sake teen Montego United (tweede) vir ‘n plek in die finaal moet uitspook. Die ander semifinaal is tussen FNB Grootfontein en die voorloper FNB Wanderers.
Rehoboth se hoofafrigter Brian Titus sê dit was ‘n skoon, harde wedstryd by die St. Joseph-skoolveld.
Ná ‘n eerste helfte saam met die wind het Rehoboth inderdaad met 20-8 voorgeloop. Ongelukkig vir die tuisspan het hulle in die tweede helfte niks bygevoeg ná die drieë van die flanke Deevan Mathys (2) en Delano van Wyk, asook senter Miquel Busch se een doelskop en strafdoel nie.
“Ons het in die tweede helfte foute begin begaan, insluitend dat hulle strafskoppe binne trefafstand nie pale toe geskop het nie. Hierdie kanse wat nie benut is nie, het sake vir Kudus vergemaklik om ons telling van agter af in te haal en verby te steek.
“Vir toeskouers was dit ‘n aanskoulike wedstryd en die gees is goed onder die Rooi Bulle, dat ons ná ‘n herbouperiode hierdie seisoen op die regte pad is. Die jong spelers wat vanjaar hul hand opgesteek het, is ‘n positiewe teken vir die toekoms.
“Ons wens vir Kudus en die ander semifinaliste voorspoed toe.”
Kudus se wenpunte is danksy een drie elk deur senter Armando Dentlinger, losskakel Denzo Bruwer en flank Lezardo Vos versamel, asook vyf skoppunte deur Bruwer en een strafdoel deur plaasvervanger Aurelio Plato.
Twee topspanne, Wanderers wen
FNB Wanderers sluit sy premierligaveldtog met net ‘n enkele nederlaag uit 16 wedstryde af, nadat hy Saterdag in die Hage Geingob-stadion vir Montego United met 41-29 ondergekry het.
Indien daar ‘n bekommernis in die Wanderers-kamp voor die semifinaal is, kan dit oor die beskikbaarheid van hul kaptein en haker Edward Drotsky wees, wat die veld in die tweede helfte met ‘n stamp teen die kop verlaat het. Stut Chemigan Beukes is toe na haker verskuif en Victor Dumbo is opgestuur.
Die X-faktor waaroor die Filistyne beskik, is gedemonstreer in die beste drie van die wedstryd, wat hulle met ‘n teenaanval ná 36 minute geskep het. Wanderers se losskakel Wiks Tromp het gevaarlik uit sy eie kwartgebied deurgebreek en ‘n rolskoppie vir die senter SW Kuhn gegee. United se vleuel Irongwa Atshivudi het egter in sy eie doelgebied gaan red en ‘n paar verdedigers geklop voordat hy sy heelagter Enrique Husselmann weggestuur het om onder Wanderers se pale te gaan druk. Teen die verwagtinge was United gevolglik rustyd met 17-15 voor.
Atshivudhi het ook ‘n drie van sy eie gedruk ná ‘n puik aangee deur senter Reinold Benade, met stut Otja Auala, vleuel Jurgen Meyer en senter Suramie Kambombo wat ook vir oulaas ‘n drieëbonuspunt verseker het. Twee van Husselmann se doelskoppe het geslaag.
Wanderers se oorwinning is met drieë deur vleuels Jaylon Carew (twee, insluitend ‘n onderskepping naby die halflyn) en Tolley Tjipute, slot Kistings Minyoi, haker Edward Drotsky en plaasvervangerflank Kyle Nel behaal, asook Wiks Tromp se vier doelskoppe en ‘n strafdoel.
Alcino tree uit met ‘n wen
FNB Unam se kaptein en senter Alcino Izaaks was een van hul driedrukkers in ‘n opwindende tuisoorwinning met 50-43 teen FNB Grootfontein.
Die studentespan se seisoen eindig in die vyfde posisie, maar met hul oorwinning teen een van die semifinaliste kan die koppe hoog gehou word vir 2027 se aanslag. Die 32-jarige Izaaks, senter in die 2023 Wêreldbeker-groep in Frankryk, het egter agterna sy uittrede aangekondig.
Rustyd het Unam met 24-21 sy neus voor gehad, maar die spanne het later op 31-31 gelykop getrek en kop-aan-kop gebly totdat twee laat drieë die uitslag in Unam se guns beklink het.
Grootfontein se kaptein en haker Wikus Jacobs sê vanweë die groot area van waar hul spelers afkomstig is en hul beperkte geleentheid om saam te oefen, was dié harde kragmeting ideaal voor die semifinaal. In die laaste minute was die noordespan se asem egter daarmee heen toe Unam hul finale aanslag geloods het.
Jacobs self het twee drieë gedruk, die vaskopstut Filippus Tshuuya een en skrumskakel Jahno du Plessis drie drieë, terwyl senter Franklin Busch se betroubare voet met vyf uit ses doelskoppe en een strafdoel geslaag het.
Unam se agt drieë is deur vleuel Don Juan Beukes (2), heelagter Kee-Shan Beukes, senters Lazarus Joseph en Alcino Izaaks, skrumskakel Caden Moller en haker Rowan Jansen gedruk. Losskakel Geraldo Beukes het met vier doelskoppe geslaag.
Dolphin wen in Khomasdal
FNB Dolphin se bemoedigende vordering is met ‘n swaarverdiende oorwinning teen FNB Western Suburbs in Khomasdal afgesluit (26-22).
Vir die Swakopmunders het vleuels Antonio Titus (2) en Vaino Gamatham, asook heelagter Luchiano Geingob drieë gedruk waarvan drie deur losskakel Maughan Jarman verdoel is. Hul taak is deur geelkaarte vir die slot Jerome Schuman en stut Ouboer Geinub bemoeilik.
Suburbs het ‘n bonuspunt vir die vyfpunters van stut Upahee Muhuura (2), slot Jaarukuaku Tjatjitura en plaasvervangers Dullon de Klerk ingepal, met een doelskop deur skrumskakel Dwayne van Zyl.
NRU reserweliga
In die tweedespanne se liga sal komende naweek se semifinale tussen FNB Kudus (eerste) teen FNB Wanderers (vierde), asook FNB Unam (tweede) teen FNB Grootfontein (derde) beslis word.



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article