Karuhumba lei jong o.20-groep na Kampala

Rugby
Die Afrika-wenspan dring deur na die Wêreldrugby Onder-20 Trofee-toernooi wat later vanjaar in Chili aangebied word.
Andrew Poolman

Namibië is vuur en vlam om sy titel by die komende Rugby Afrika Onder-20 Barthes-bekertoernooi in Uganda se hoofstad Kampala suksesvol te gaan verdedig.

Die toergroep het gister ‘n afskeidgeselligheid en nuuskonferensie by die Namibiese Sportkommissie bygewoon voordat hulle vandag uit Windhoek vertrek.

Die flank Tjeripo Karuhumba, ‘n produk van Orban Laerskool en Windhoek Hoërskool wat verlede jaar sy skoolloopbaan by Wynberg in die Kaap afgesluit het, is as die toerkaptein aangewys. Karuhumba het vanjaar by die Universiteit van Kaapstad begin studeer.

Die Namibiërs het by verlede jaar se Afrika-toernooi in Harare oortuigend met Kenia en Zimbabwe afgereken.

Die formaat vir vanjaar se toernooi is vanweë die onttrekking van Madagaskar en Ivoorkus aangepas, met ‘n regstreekse uitklopkompetisie eerder as die gebruiklike rondomtaliegrondslag.

Afrigter Johan Zaayman het gister gesê hy is ietwat bekommerd dat die toergroep ná hul aankoms in Kampala net ‘n enkele dag gaan hê vir herstel en voorbereiding voor hul openingswedstryd teen Tunisië komende Vrydagoggend.

‘n Oorwinning sal Namibië tot die finaal op Dinsdag 11 Augustus laat deurdring, teen die wenner van Zimbabwe of Kenia.

“Ons het respek vir Zimbabwe en Kenia se rugby en het ‘n goeie idee wat om van hulle te verwag, maar ons is op ‘n missie om ‘n punt te bewys,” het Zaayman gesê.

“Ons groep is bietjie jonger as verlede jaar, maar die vlak van talent weeg baie goed op. Die gekose spelers het almal ervaring om die land vanaf die junior skoolvlak te verteenwoordig en ons is positief dat hierdie jonger groep ook sukses op Afrika-vlak kan ervaar, wat goed vir Namibiese rugby sal wees.”

 

AFWESIGE SKIETGOED

Om verskeie redes het verskeie hoog gerekende spelers hulle uit die aanvanklike oefengroep onttrek, wat daartoe aanleiding gee dat vanjaar se groep heelwat meer skoolseuns as in onlangse jare bevat.

Zack von Wielligh en Ruan Agenbach, tevore uitstaande losvoorspelers van Windhoek Gimnasium wat beide tans in Suid-Afrika speel, is uitgeskakel toe Agenbach ‘n besering opgedoen het en Von Wielligh na ‘n oefenkamp vir ontluikende Blitsbok-sewestalent opgeroep is.

Christiaan Burger (Universiteit van Stellenbosch) het weens akademiese verpligtinge onttrek, terwyl Janco Bredenhann (Rugby Travel Academy en Blou Bulle junior groep) in die proses is om ‘n kontrak oorsee vas te knoop. Liam van Rooyen (Noordwes Universiteit), wie se pa in Namibië gebore is, kon nie betyds ‘n paspoort bekom nie, terwyl Connor Burmeister Nel ‘n besering opgedoen het.

Windhoek Gimnasium se slot Buhlem Oelofsen het ook vanweë akademiese verpligtinge onttrek.

Zaayman is nietemin positief dat die Namibiërs wel oor die talent en voorbereiding beskik om in die spore van laasjaar se sukses te volg. Die Afrika-wenspan dring deur na die Wêreldrugby Onder-20 Trofee-toernooi wat later vanjaar in Chili aangebied word.

Die Namibiese spelersgroep:

 

VOORSPELERS (16)

Lorenzo Awaseb (WHS), Eduardo Dunn (Windhoek Affies), Tauno Hamukoto (Unam), Goddard Husselmann (Western Suburbs), Tjeripo Karuhumba (kaptein, Universiteit van Kaapstad), Isaiah Kazondovi (WHS), Marchall Klein (Unam), Keanan Louw (WHS), Benjamin Mostert (Universiteit van Stellenbosch), Jacobus Mouton (Windhoek Affies), Valentino Niigambo (Unam), Nzola-Menza Nkunku (Western Suburbs), Pandeni Shipena (Windhoek Affies), Joshwin Solomon (Kudus), Pieter-Jan Strydom (Rugby Travel Academy, Pretoria), Tiaan van der Westhuizen (Walvisbaai Privaatskool).

 

AGTERSPELERS (12)

William Beukes (WHS), Derick Bezuidenhout (Unam), Jano Erasmus (Universiteit van Stellenbosch), Wesley Haukongo (Reho Falcon), Carlo Hawanga (United-rugbyklub), Dominique Isaacs (Wanderers), Jayden Jansen (Reho Falcon), Damian Klein (WHS), Bertus Narib (Wanderers), Soobramoney Sammy (United-rugbyklub), Ethan Sinden (Wanderers), Mc-Rein van Wyk (WHS).

 

BESTUURSPAN

Johan Zaayman (hoofafrigter), Jood Opperman (hulpafrigter), Jacky Husselmann (spanbestuurder), Wilfred Bezuidenhout (spandokter), Megan Sam (fisioterapeut), Sergio de la Harpe (krag- en kondisioneringsafrigter).