Jong voorsitter volg Van Zyl by Wanderers op

Klubrugby
Die bestuurspan is bevestig wat die leierskap van die nasionale kampioenklub volgende jaar sal verskaf.
Andrew Poolman

Ná agt jaar as voorsitter van ‘n bestendig suksesvolle FNB Wanderers-rugbyklub betree Willem van Zyl ‘n nuwe tydperk as klubpresident.

Die heersende nasionale kampioenklub in die Namibië Rugbyunie (NRU) se premierliga vir mans, asook in die nasionale 15’s-vroueliga, het by sy algemene jaarvergadering ‘n mengsel van nuwe bloed en gesoute ervaring in sy bestuursposisies verkies.

Wanderers, wat sy 106de bestaansjaar agter die blad het as die land se tweede oudste klub ná Montego United (gestig in 1916), is konstant een van die toonaangewende kragte in die plaaslike sport.

Onder voorsitterskap van Van Zyl was dit ‘n skaars verskynsel vir Wanderers om nie in die eindstryd van die NRU premierliga betrokke te wees nie. Nadat FNB Kudus en FNB Grootfontein die Wit Hingste verlede jaar onderskeidelik in die eindstryde van die NRU premierliga en die JSB Gold Cup verras het, was Wanderers vanjaar indrukwekkend op dreef met ‘n wenrekord van 17 uit 18, insluitend die eindstryd teen Kudus (52-27).

Herman Davin, wie se insette as klubpresident ook agter die skerms van groot waarde was, sal volgende jaar as beskermheer dien.

Van Zyl se skoene word volgestaan deur die jong Rainer Augustyn, wat Windhoek Hoërskool (tot 2016) en Namibië o.20 as slot verteenwoordig het voordat hy soos sy pa Dawie en ouer broer André ook by Wanderers aangesluit het.

Die 28-jarige Rainer was tot vanjaar nog aktief as speler, maar het ook reeds sedert laas jaar die bestuursfunksies begin betree toe gevalle van harsingskudding hom toenemend op die kantlyn begin hou het.

Wanderers-rugbyklub se topbestuur in 2027:

Beskermheer: Herman Davin.

President: Willem van Zyl.

Voorsitter: Rainer Augustyn.

Ondervoorsitter vir rugbysake: Christiaan Jacobie.

Ondervoorsitter vir bestuursake: Barend Oberholzer.

Komiteelede: Tristan Lubbe, Reben Botha, Johan Lambert, Dano Kotze.

Die Wit Hingste se hoofafrigter Darryl de la Harpe sê die kontinuïteit op die bestuursvlak is ‘n goeie teken vir die klub. “Ek reken nie veel het verander nie. Al die betrokkenes is mense met integriteit en die jongmanne sal goeie werk doen deur aktief te wees. En soos altyd is dit wonderlik om Oom Herman Davin steeds betrokke te hê.”