Jaythen Orange van WHS na Junior Bokke
Windhoek Hoërskool het ‘n boodskap van gelukwensing uitgereik na een van sy oudskoliere wat die afgelope naweek in die Junior Springbok-rugbygroep ingesluit is.
Die slot Jaythen Orange is as ‘n laat plaasvervanger na die Suid-Afrikaanse o.20-groep opgeroep nadat AJ Meyer weens ‘n besering onttrek is.
Die 19-jarige Orange (gebore op 15 Mei 2007 in Windhoek) was in Windhoek Hoërskool toe hy in 2023 vir die Namibiese o.16-span na die Grant Khomo-week in die Paarl gekies was, waarvan die agtsteman Pieter-Jan Strydom die kaptein was.
Later dieselfde jaar was hy ook in kaptein Zack von Wielligh se span na die SA interpovinsiale o.17-sewestoernooi in Bloemfontein.
Orange het daarna na Kaapstad verhuis om in Wynberg Boys High skool te gaan, waar hy verlede jaar die eerstespan se kaptein was. Vanjaar het hy vir die Universiteit van Johannesburg in die Varsity Young Guns-kompetisie gespeel.
Windhoek Hoërskool se boodskap sê: “Van ons klaskamers na die internasionale verhoog – wat ‘n oomblik. Die gewese WHS-skolier Jaythen Orange het ‘n plek in die SA o.20-groep verdien. Jou toewyding en passie is beloon, en ons is trots om jou een van ons eie te noem. Die ganse WHS-familie staan agter jou op hierdie opwindende reis – gaan maak jou merk! Een keer blou, altyd blou. Maak hulle warm, Jaythen!”
Die SA o.20-span begin speel vanaf komende Saterdag in Gqeberha in die Sanzaar o.20-kampioenskap, met Argentinië as hul eerste opponent. Die reeks dien as voorbereiding op die O.20 Wêreldkampioenskap, met die SA groep wat vier spelers oorhou wat verlede jaar die titel gewen het.



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article