Gulde kans om blasers behoorlik op te lei

Rugby
Met ’n metodiese program word voornemende skeidsregters op ’n beproefde pad na sukses geplaas.
Andrew Poolman

Die Namibiese Rugbyskeidsregtersvereniging (NRRS) se ondervoorsitter Jannie de Beer is passievol om nuwe bloed te inspireer om die fluitjie as rugbyblasers op te neem – eerstens met die oog op skolerugby, met geleenthede om later ook op klubvlak of hoër op te tree.

Vir dié doel word ‘n bekendstelling-werkskool op 20 en 21 November by Windhoek Gimnasium se klubhuis aangebied.

Bywoning van die werkskool onder leiding van SA Rugby se genooide instrukteurs Deon van Blommenstein en Cwengile Jadezweni is gratis en bystand met reis- en verblyfkoste kan gereël word, maar die beskikbare plekke is beperk en die sperdatum vir registrasie is op Sondag 15 November.

Die inisiatief van die Namibiese Rugbyskeidsregtersakademie (NRRA) en King Price as hoofborg word deur beide die NRU (Namibië Rugbyunie) en die NRRS ondersteun.

Die legendariese oud-Springboklosskakel Jannie de Beer, as ondervoorsitter van die NRRS, doen tans die belangrike aanvoorwerk vir die bekendstelling-werkskool. Hy het op verlede week se episode van NTV se sportgeselsprogram Gooi Kole breedvoerig hieroor gesels.

De Beer sê: “Hierdie is ’n uitstekende geleentheid om die grondbeginsels van rugbyskeidsregterskap te leer.”

Sy eerste blootstelling aan SA Rugby se stap-vir-stap opleiding vir skeidsregters vanaf beginnervlak het in verskeie opsigte sy oë oopgemaak, vertel hy.

“Ek het ’n soortgelyke opleidingsessie in Suid-Afrika bygewoon, en dit was uitstekend.

“Eerlikwaar, om as ‘n skeidsregter opgelei te word, is nie so ‘n moeilike taak as wat dit lyk nie. Die handboek wat jy gaan ontvang, sal voldoende wees om jou gemotiveerd en op koers te hou.

“Die bekendstelling is gemik op afrigters, onderwysers, ouers en kinders (16 jaar en ouer) en dit sal gaaf wees as die boodskap versprei kan word na elkeen wat dit behoort by te woon.”

Die werkskool word gefasiliteer deur Deon van Blommenstein (SA Rugby se hoof vir amateurskeidsregters) asook Cwengile Jadezweni (SA Rugby se bestuurder vir talentidentifisering). Jadezweni is reeds vir meer as ‘n dekade op SA Rugby se paneel van elite skeidsregters en was reeds meer as een keer aangestel om Curriebeker-eindstryde te hanteer.

Die Akademie bied ook ‘n program van mentorskap en terugvoering om jong skeidsregters en assistent-skeidsregters in skolewedstryde praktiese blootstelling te gee, met moontlikhede om ook na senior klubrugby en hoër vlakke te vorder.

De Beer sê net ‘n beperkte aantal bywoners sal hanteer kan word. ‘n Spertyd (komende Sondag, 15 November) is vir registrasie gestel. Hy voeg by dat reëlings getref kan word om voornemende bywoners van buite die hoofstad met reiskoste en verblyf behulpsaam te wees. Maaltye word ook op beide dae verskaf.

Hy moedig belangstellendes aan om hom by [email protected] asook by [email protected], of sel. 081 396 5555 te skakel.