Gevoelige houe tref kort voor WB-missie

Rugby
Andrew Poolman
Die beseringspook bly steeds teenwoordig sedert die Namibië Rugby-unie se aankondiging van sy oefengroep wat moet slyp vir die snel naderende Finale Kwalifiserende Toernooi (10-18 November) in Dubai met die oog op die 2027 Wêreldbeker.

Die gekweste Samoa lyk ondanks sy onlangse nederlae in die Pasifiese en Amerikas-groep na die swaargewig gunsteling om die enigste beskikbare kaartjie na Australië 2027 op te raap.

Samoa het afgesien van die 1987-weergawe geen Wêreldbeker-rugbytoernooi misgeloop nie.

Op papier lyk Namibië na ‘n buiteperd (elke Wêreldbeker sedert 1999), hoewel die onderskeie posisies op die wêreldranglys die afgelope maande redelik fluktueer.

Op vandeesweek se ranglys is Samoa 16de geplaas, Namibië 27ste en België se Zwarte Duivels in die 22ste plek (net een plek swakker as die nasie se beste ooit, 21ste in 2012 en 2013).

Komende Saterdagaand sal óf Brasilië (30ste) óf Paraguay (34ste) sy plek in die Finale Kwalifiserende Toernooi inneem. Paraguay het laas naweek met sy tuisoorwinning van 39-19 ‘n potensiële doodskoot toegedien, ondanks die feit dat die spanne toe nog 28ste en 38ste op die ranglys gereken was. Die druk is dus ten volle op Brasilië Saterdag in ‘n stryd om oorlewing.



Malan en Swanepoel getref

Namibië se afrigter Jacques Burger het vandeesweek vir Sport Wrap op datum gebring met van enkele nuwe verwikkelinge vandat die oefengroep einde laas week aangekondig is.

Die binnesenter Le Roux Malan het glo laas naweek in ‘n klubwedstryd in Nieu-Seeland ‘n kraak in sy wangbeen opgedoen wat sy kanse kan belemmer om vir Namibië in Dubai te kan speel.

Malan was die afgelope tyd in Nieu-Seeland se Nasionale Provinsiale Kampioenskap (NPC) vir die Hawkes Bay Magpies in aksie, waar hy sedert 22 Augustus vyf wedstryde gespeel en drie drieë gedruk het.

“Le Roux kan moontlik uit vir vier tot ses weke uit wees; hy sal hierdie week ‘n spesialis gaan sien,” het Burger gesê.

Die losskakel Tiaan Swanepoel van die Vrystaat-Cheetahs kan ook heeltemal buite rekening wees vanweë ‘n heupbesering wat tot nou nog nie wou herstel nie.

In Frankryk staar die losvoorspeler van Grenoble, Richard Hardwick, ‘n tugverhoor in die gesig nadat hy op 3 Oktober in sy vyfde wedstryd van die nuwe seisoen ‘n rooi kaart teen Provence gekry het.

Hardwick se Namibiese spanmaat by Grenoble, die vleuel Gerswin Mouton, het reeds vroeër op die krukkelys beland. Mouton het op 5 September teen Aurillac as aanvallende speler onder ‘n hoë bal gespring en het tydens die landing ligamente in sy knie geskeur, wat intussen ‘n operasie genoodsaak het.

In Windhoek is die Namibiese span se medici ook besig met die skouerkwale van die skrumskakel Jacques Theron en die slot Oliver Kurz, terwyl die ervare losskakel en heelagter Cliven Loubser steeds nie ten volle die voetbesering kon afskud wat hom aan die einde van die Julie-toer vir die Rugby Afrika kwalifiserende toernooi gepla het nie.

Die mediese span sou vandeesweek evalueer hoe Loubser, Theron en Kurz se beserings op behandeling reageer.

Van die ervare oorsese Namibiese kandidate soos die slot Tjiuee Uanivi (klubverpligtinge by Montauban in Frankryk) en skrumskakel Damian Stevens (persoonlike redes) kon ook nie in die oefengroep ingesluit word nie.

Die vaskopstutte Patrick Schickerling (Glasgow Warriors; onlangse voetbesering) en Herman Coetzee (Racing 92 in Frankryk) was ook nie vir Namibië beskikbaar nie.

Volgens Burger is dit moontlik dat plaasvervangende spelers tot die oefengroep bygevoeg kan word.

Namibië moet op 20 Oktober – komende Maandag – sy toergroep van dertig spelers na Dubai bevestig en aankondig.

Burger het onthul dat Namibië beoog om voor die toer na Dubai een vriendskaplike opwarmwedstryd op 1 November teen die Boland Kavaliers op Wellington te gaan speel.