Finaliste storm beide indrukwekkend deur
FNB Wanderers en FNB Kudus sal op 10 Oktober in die eindstryd sake uitspook om te bepaal wie die land se kampioen-rugbyklub vir die 2026-seisoen is.
Wanderers, wat vanjaar boaan die puntelys geëindig het met 15 uit 16 oorwinnings, en die heersende titelhouer FNB Kudus sal beide groot selfvertroue put uit hul vertonings in hul onderskeie semifinale afgelope Saterdag in die Hage Geingob-stadion.
Montego United (tweede) en FNB Grootfontein (vierde) is beide in staat om op enige gegewe dag ‘n stok in die speke van die gunstelinge te steek, maar ondanks moedige vertonings in die uitklopfase kon hulle nie verhinder dat hul seisoen by die voorlaaste hekkie eindig nie.
Dieselfde twee finaliste was in 2025 ná ‘n enkelrondte van die Namibië Rugbyunie se premierliga slaags, met Kudus wat met 50-32 onkeerbaar was om Wanderers te onttroon en die eerste nasionale triomf in die Walvisbaai-klub se bestaan te verseker.
Kudus 55-38 United (premierliga)
Die Kudus-heelagter Lloyd Jacobs was puik op dreef vir die kampioene en het met vier drieë gewys waartoe hy in staat is, terwyl losskakel Kyle Wentzel 20 punte (insluitend twee drieë) bygedra het.
Hierdie semifinaal se uitslag sou altyd afhang van hoe die twee klubs hul beskikbare kaarte sou speel – met beide se opsies wat deur oproepe na die nasionale sewesspan en die Namibiese o.20’s, asook deur beserings aan sleutelspelers beïnvloed is.
Kudus was sonder die dienste van Aston Mukwiilongo, Aurelio Plato, Lucio Isaacs (almal sewes), die slot Dohan van Zyl (o.20’s) asook die losskakel Denzo Bruwer wat die vorige naweek teen Rehoboth ‘n agterdyspier beseer het.
United moes hul planne sonder JD Nel, Irongwa Atshivudhi en Enrique Husselmann (sewes), Soobramoney Sammy (o.20) en die beseerde losvoorspeler Thehard Lintvelt en stut Jano Otto maak.
‘n Ewe gevoelige terugslag vir die Filistyne was toe hul flank Ben Burger se skouer binne die eerste twee minute uitgehaak het. Hy is deur Rudi Pieters vervang.
Sheron Rossouw, hardwerkende slot van Kudus, het ná 21 minute ‘n stamp teen die kop gekry en Clayton Camm het by hom oorgeneem.
Kudus was op 17-0 ná 27 minute die vinnigste uit die blokke, en hoewel United terugbaklei het rustyd net met 17-24 agter te loop, het die Walvisbaaiers al hul skietgoed laat tel – insluitend die vurige motivering van hul immerteenwoordige Blue Army op die pawiljoen.
Ontydige geelkaarte vir senter Suramie Kambombo (43 minute) en slot Gerhard Steenkamp (75 minute), asook enkele duur individuele foute het tot United se ondergang bygedra.
Aan Kudus se kant het flank Lezardo Vos tien minute in die koelkas uitgedien vir ‘n hoogvat op Kambombo, waarvoor skeidsregter Johre Botha ook ‘n strafdrie aan United toegeken het.
Hoewel Kudus die afgelope seisoen beide tuis en weg teen Wanderers verloor het, sal die Wit Hingste beslis hul huiswerk moet doen oor die slaankrag wat die blou span beide voor- en agterlangs uitgestal het.
Puntemakers
FNB Kudus 55 – driedrukkers heelagter Lloyd Jacobs (4), losskakel Kyle Wentzel (2), flank Lezardo Vos en vleuel Giovanni Isaacks. Vyf doelskoppe deur Wentzel.
Montego United 38 – drieë deur stut Otja Auala, heelagter Jurgen Meyer (2), skrumskakel Elzandro van Wyk, vleuel Prince Januarie en ‘n strafdrie. Drie doelskoppe deur losskakel Hanreco van Zyl.
Wanderers 60-27 Grootfontein
FNB Wanderers het vanjaar 129 drieë in 16 ligawedstryde gedruk (gemiddeld agt) – wat ‘n aanduiding moes wees van die reusetaak wat haker Wikus Jacobs se FNB Grootfontein-span in die gesig sou staar.
Hoewel die Wit Hingste se enigste nederlaag vanjaar juis op Grootfontein was, het die sleutelspelers vir die wenspan Saterdag hul hand opgesteek om hul prominensie te bevestig.
Net vir kort periodes in die eerste helfte het Grootfontein dit reggekry om ‘n voorsprong van 5-0 en 12-11 te verkry, maar rustyd het Wanderers met 25-12 reeds ‘n houvas gehad.
Vooraf was daar kommer dat haker Edward Drotsky, wat die vorige naweek ná ‘n hou teen die kop die veld teen United verlaat het, dalk net ‘n beperkte rol vanaf die bank sou kon speel en dat Herschell van Wyk, ‘n loskopstut, sou moes begin. Drotsky was egter op sy pos om te verseker dat die ingooiwerk in Wanderers se lynstane nooit ‘n kwesbare punt sou wees nie.
As kaptein het die senter Danco Burger uitgestaan vir Wanderers, met ewe indrukwekkende individuele vertonings van spanmaats soos Adriaan Booysen, Kistings Minyoi, Wiks Tromp en verskeie ander.
Die ervaring en gevestigde samespel van Wanderers onder afrigterskap van Darryl de la Harpe, Rohan Kitshoff en Bakkies Rossouw is op die voorgrond gebring deur hul vertoning in druksituasies.
Geelkaarte vir Grootfontein se flank Pieter Daan Kok (38 minute) en Wanderers se stut Chemigan Beukes (65 minute) is vir tegniese oortreding toegeken. Wanderers se jong heelagter Jaylon Carew het ná 67 minute ‘n rooikaart gekry toe hy by ‘n losskrum ‘n knie gebruik het om homself uit ‘n losskrum te bevry.
Puntemakers
FNB Wanderers 60 – drieë deur senter Danco Burger, haker Edward Drotsky, agtsteman Adriaan Booysen (2), slot Kistings Minyoi, vleuel Tolley Tjipute, heelagter Jaylon Carew en plaasvervanger-senter André van der Berg. Doelskoppe deur losskakel Wiks Tromp (6) en Van der Berg. Strafdoele deur Tromp (2).
FNB Grootfontein 27 – drieë deur flank Pieter Daan Kok, senter Franklin Busch, vleuel AJ Vercuil en stut Filippus Tshuuya. Busch slaag ook met twee doelskoppe en ‘n strafdoel.
NRU Reserweliga
Die heersende kampioen FNB Kudus II het vanjaar 16 uit 16 in die NRU reserweliga gewen, voordat hulle Saterdag in die semifinaal ook met die aanslag van FNB Wanderers se tweedes klaargespeel het.
Hul oorwinning met 40-26 (rustyd 14-21) het verseker dat die Walvisbaai-klub se twee spanne op 10 Oktober in die hoofstad beide hul titels sal kom verdedig.
Kudus sal uitgedaag word deur Unam se tweedespan, wat sy halfeindstryd teen Grootfontein II dramaties met 41-39 oorleef het (rustyd 23-15).



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article