Finaliste in Kampala doen nabetragting voor die grote
Rugby
Beide Namibië en Zimbabwe het nog nie hul heel beste rugby in die toernooi gespeel nie.
Die rugbytrots van Namibië en Zimbabwe bots opnuut komende Saterdagmiddag met beide wat alles moontlik in die stryd sal werp vir die droom om kwalifisering vir die 2027 Wêreldbeker in Australië vas te knoop.Beide wedstrydgroepe sal hoop vir spoedige herstel van die fisieke inspanning wat dit geverg het om afgelope Sondag hul halfeindstryde by die 2025 Rugby Afrika-bekertoernooi in Uganda se hoofstad Kampala te wen.
Namibië was vooraf lugtig vir Algerië, sy opponent in die semifinaal wat by die vorige twee toernooie in sy eerste verskynings in die kontinentale “A-afdeling” reeds oor beide Zimbabwe en Kenia getriomfeer het.
Kaptein Prince !Gaoseb en sy manne het wel eerste punte afgestaan en het nie naastenby ‘n foutlose vertoning gelewer nie, maar het nogtans op die telbord en in die meeste fasette van die spel in beheer gebly op pad na hul oorwinning met 21-7 (rustyd 15-7).
!Gaoseb het ná die eindfluitjie gesê: “Dit was ‘n fisieke wedstryd. Algerië was goed vir die eerste 20 minute, maar ek is trots dat die ouens die knoop deurgehaak het. Ons sien uit na die eindstryd en sal in die komende dae deeglik voorberei. Dit sal ‘n goeie finaal wees.”
In die bepalende eindstryd sal dissipline opnuut een van die groot faktore wees. In beide wedstryde sover in Kampala het Namibië een geel kaart gekry.
Teen Senegal was die beslissing teen die slot Oliver Kurz dalk aanvegbaar nadat hy ‘n bra klein rol in ‘n stoeiery op die grond gehad het. Teen Algerië was die agtsteman Richard Hardwick vanaf die 72ste minuut in die koelkas vir ‘n professionele oortreding. Gelukkig was Namibië in beide gevalle in staat om die situasie redelik skadeloos te ontlont.
• Sondag moes Zimbabwe se Sables ná rustyd ‘n tweede asem vind om ‘n hardnekkige Kenia-span met 29-23 onder te kry, met twee onderskepdrieë wat deur die Oos-Afrikane uitgebuit is.
Zimbabwe se speler van die wedstryd was die Sharks se flank Tinotenda Masevere, wat ‘n hardwerkende vertoning gelewer het. Die Sables-afrigter Piet Benade was die afgelope twee jaar redelik suksesvol om spelers van Zimbabwiese afkoms vanoor die wêreld in ‘n eenheid vir die nasionale belang saam te snoer.
Die Goue Leeus se heelagter Tapiwa Mafura (tevore ook by die Pumas en Cheetahs) en losskakel Ian Prior (Western Force) is maar net twee van verskeie oorsese staatmakers in die Sables-groep.
Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article