Etosha Leeus breed in pad van Oranjemund se titeljag

Klubrugby
Andrew Poolman
Twee van die mees verafgeleë klubspanne spook sake Saterdag in die eindstryd van die Namibië Rugby-unie se eersteliga uit.

Op die padkaart word die Etosha Leeus van Tsumeb en Oranjemund-rugbyklub deur ‘n allemintige 1260 kilometer geskei, met dié twee wat deurgedring het om die eerste helfte van hul seisoen met ‘n blink trofee af te sluit.

‘n Nuwe kampioen sal bekroon word nadat Ocean Swallows van Lüderitz nie soos verlede jaar die suidelike helfte van die kompetisie kon wen nie. Die Swallows het die 2024-eindstryd teen die Windhoekse klub Vipers met 17-14 gewen, toe laasgenoemde met die laaste beweging ‘n strafskop binne trefafstand teen die regoppaal vasgeskop het.

Die Etosha Leeus se mees onlangse triomf was in 2023, toe hulle vir Mariental in die eindstryd met 48-24 oorskadu het.

Hierteenoor het Oranjemund nog nooit tevore die toppunt van die NRU eersteliga gehaal nie. Die span van die suidwestelike uithoek van die land het in die 2018-eindstryd teen Vikings verloor, nadat hulle die vorige jaar in die halfeindstryd deur Unam se derde span uitgeskakel is.

Oranjemund se afrigter Hugren Andrews sê die klein getalle spanne in die suide is nie ideaal nie. Sy span het net vier wedstryde gespeel en sedertdien het sewe weke verloop – wat redelik ontwrigtend was om spelers by die oefenveld te kry vanweë die indruk dat hulle soveel tyd tot hul beskikking het.

“Ons klub is nog besig met die heropbou ná die Covid-jare, maar in ons vier wedstryde vanjaar het ons algaande verbeter.

“Met so min spanne kan net een verloorwedstryd jou baie duur te staan kom en ons het ons openingswedstryd weg teen Keetmanshoop Rams met 21-25 verloor. Maar ons het hierna onsself reggeruk en ons tuiswedstryde teen Ocean Swallows (26-24) en teen Keetmanshoop Rams (24-13) gewen en ten laaste ook ons wegwedstryd teen Ocean Swallows (39-10) op Lüderitz.”

Ná vier wedstryde elk het Oranjemund (15 punte) onder kapteinskap van die gewese Namibiese toetsvleuel Gino Wilson net-net voor Keetmanshoop Rams (12) geëindig, terwyl die titelhouer Ocean Swallows al vier verloor het en net twee bonuspunte kon wys.

Andrews sê: “As spanbestuur het ons waardering dat die spelers vasgetrap en ons plek in die finaal verseker het, asook vir die dorp se besighede wat ons ondersteun het. Ons vertrek vanaand (Donderdag) op pad Windhoek toe om die volgende oggend darem ‘n vinnige kapteinsoefening te hê.”



‘n Jaar vol uitdagings

Die Etosha Leeus se kaptein Danwill Morkel sê vanweë rugbyspelers uit die noorde wat weggetrek het en deur ander vervang is, was dit ‘n jaar vol uitdagings.

“Vir die hele jaar het ons nie ‘n enkele voltallige oefengeleentheid gehad nie vanweë spelers se verantwoordelikhede as plaasboere, of met uitstedige werkverpligtinge.

“Ons het nogtans daarin geslaag om agt uit tien wedstryde te wen en boaan ons puntelys te eindig (32 ligapunte; punteverskil 245 teen 98; drieë 31 teen 11).

“Ons twee verloorwedstryde was teen Oceans op Walvisbaai, en op ons tuisveld teen Sparta. Ons moes hierna ook ‘n lekker harde uitspeelwedstryd teen Vipers wen (21-16) om na die finaal deur te gaan.

“Ons verwag ‘n klipharde finaal. Noorde teen suide bring altyd die beste uit albei spanne. Mag die beste span wen.”

Die eersteliga-eindstryd sal deur Anthonie de Greeff as skeidsregter hanteer word.