Drie spanne steek verby terwyl Kudus rus
Grootliks vanweë hul loslootjie-naweek is die verdedigende kampioen FNB Kudus deur drie uitdagers op die puntelys verbygesteek op die tweede naweek van die NRU premierliga.
FNB Wanderers se eerste span het die maksimum ses ligapunte in hul wegholoorwinning met 87-19 teen FNB Dolphin in Pionierspark verdien.
Wanderers het 13 drieë aangeteken, waarvan twee elk deur die heelagter Tolley Tjipute en die haker en kaptein Edward Drotsky.
Met nege doelskoppe en ‘n drie het Wanderers se losskakel Wiks Tromp 23 punte behaal. Die wenspan se ander driedrukkers was die senters Ray-Eez Feris en SW Kuhn, regtervleuel Jonathan Hanekom, flank JP Campbell, slot Kistings Minyoi en die plaasvervangers Dhale Cloete, Dominique Isaacs en Bertus Narib. As plaasvervanger het Ryan Coetzee ook ‘n doelskop bygedra.
Dolphin het in die gasheerklub se ekstra stel pienk truie gespeel, nadat die besoekers se swart-en-wit truie per abuis in Swakopmund agtergebly het.
Wanderers se afrigter Darryl de la Harpe sê: “Dit was ‘n goeie wedstryd. Ek reken Dolphin het ‘n lekker span hierdie jaar. Wiks was uitstekend met al sy skoppe pale toe in ‘n sterk wind en op slot was Kistings Minyoi net so goed.”
Dolphin se twee drieë is deur vleuel Roendardio Doeseb en flank Richard Kasimba gedruk, met een doelskop elk deur heelagter Zaino van Wyk en losskakel Demashu Maya. Dolphin het die vorige naweek volpunte gekry teen FNB Western Suburbs (45-21).
Grootfontein tweede
FNB Grootfontein het in die tweede posisie ingeskuif nadat hul kaptein Wikus Jacobs vier drieë gedruk het om die noordespan tot ‘n oorwinning met 41-17 teen FNB Western Suburbs in Khomasdal te lei.
Jacobs, wat nou twee wedstryde as loskopstut gespeel het, het sy twee drieë die vorige naweek teen FNB Unam opgevolg met nog vier – twee van lynstaandrywe, een optel-en-dryfpoging naby die doellyn en nog een met ‘n langafstandlopie.
Nguvita Tjaronda, reserwe-voorspeler, het ook ‘n drie in algemene spel vir Grootfontein gedruk, terwyl die senter Franklin Busch sy waarde met vyf doelskoppe en twee strafdoele gewys het.
Jacobs sê die verlies van die flank Hendrik van Zyl (skouer) en slot Oliver Mouton (skouer) is ‘n terugslag. “Die wedstryd het min vloei gehad en dissipline aan beide kante was nie juis goed nie, maar die tye wanneer ons in ons patroon gebly het, het ons baie goed gevaar.”
Suburbs se agtsteman Nzola-Menza Nkunku het met drie drieë sy kant gebring, terwyl Wyatt Brook met een doelskop geslaag het.
Skeidsregter Anthonie de Greeff het vier kaarte uitgedeel, naamlik ‘n rooi aan Suburbs se vleuel Daniello Coetzee vir ‘n beweerde vuishou, en geel vir Grootfontein se vleuel AJ Vercuil, agtsteman Johan Luttig en slot Pieter Luttig. De Greeff het die vorige naweek op Swakopmund ses spelers koelkas toe gestuur (Dolphin vier, Suburbs twee).
United derde
United-rugbyklub se oorwinning met 34-14 in sy wegwedstryd teen FNB Rehoboth-rugbyklub het die bloues se agtsteman Ben Burger vier drieë gedruk en die flank Thehard Lintvelt twee.
United het een bonuspunt ingeoes en het verskeie belowende kanse verspeel om minstens nog een drie vir die maksimum twee bonuspunte in te oes. Die Filistyne het egter hul opponent weerhou om enige vordering op die puntelys te maak en hul tevrede kaptein DJ Holtzhausen het agterna uitgewys dat die stowwerige sterk wind ook ‘n rol gespeel het.
In die eerste helfte toe die Rooi Bulle teen die wind gespeel het, was ‘n enkele besoek aan United se kwartgebied bykans die enigste keer dat hulle behoorlik uit hul eie helfte kon ontsnap (rustyd 19-0). Rehoboth het drieë deur flank Deevan Mathys en vleuel Manfred Garoeb behaal, wat beide deur senter Miquel Busch verdoel is.
Unam klop Falcon
Ná hul openingsnederlaag op Grootfontein het FNB Unam sy veldtog terug op koers gebring met ‘n bonuspunt-oorwinning van 42-24 teen FNB Reho Falcon by die Dr. Lemmer Hoërskool-veld.
Afrigter David Philander se studentespan se drieë is deur die nasionale o.20-agtsteman McHenry Kambatuku, flank Rowan Jansen, haker Marchell Klein en plaasvervanger-agterspeler Aljarreau Zaahl gedruk, asook ‘n strafdrie. As heelagter het Delron Brandt met drie doelskoppe en drie strafdoele geslaag.
Die terugkeer van Oderich Mouton vanaf die reserwebank kan vir Unam groot waarde inhou, nadat hy weens beserings en ‘n paar seisoene in Poolse klubrugby lanklaas volgens sy vermoë vir hulle gespeel het. Gilad Plaatjies (op die bank) en die aanwins van United, Feddy Mazila, gee Unam belowende ondervinding en opsies in die lostrio.
Reho Falcon, in hul eerste verskyning ná ‘n loslootjie, het drieë deur vleuel Mathew van Wyk, skrumskakel Dillon Kahman, flank Keynen Basson en slot Thomas Kali aangeteken, waarvan twee deur losskakel Cliven Loubser verdoel is.
Falcon se senter JP van Wyk en Unam se losskakel Geraldo Beukes is beide deur skeidsregter Zaid Isaacs vir tien minute afgestuur.
• Komende wedstrydbepalings, uitslae en die puntestand van die premierliga by www.fnbrugby.my.na/



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article