De Duinesig druk WAP hard

Skolerugby
Andrew Poolman
“De Duinesig” – die nuut geskepte rugbykombinasie van die hoërskole De Duine en Duinesig – sal vir die Standard Bank o.19 premierliga moed skep uit ‘n stewige openingswedstryd vir die seisoen.

Die Walvisbaaiers het op hul tuisveld met 21-24 die stryd teen Autohaus Windhoek Affies gewonne gegee.

Met drieë deur buitesenter Roberto Simbo (2) en regtervleuel David Silva, wat elk deur losskakel Sergio Pamplin verdoel is, het De Duinesig hul ondersteuners se harte warm laat klop. Die kusspan het ‘n verloorbonuspunt ingeoes, plus twee omdat hulle meer drieë as die opposisie gedruk het.

Afrigter Karl Cookson sê die wedstryd was bykans gelykop in die weegskaal en De Duinesig kan heelwat leer uit die klein foutjies wat die uitslag uit hul hande geneem het. Sy span sien uit na hul volgende plaaslike derby teen Namib Diesel Walvisbaai Privaatskool.

Windhoek Affies se kaptein Berndt Otto en Pieter le Roux het drieë gedruk, terwyl Christian Engelbrecht (drie strafdoele, een doelskop) en Carter Loubser (een strafdoel) ook die knoop help deurhaak het.



Tsumeb

Op Stampriet het Compack Tsumeb Gimnasium die vroeë voortou in die premierliga geneem met sy tweede oorwinning in twee wedstryde.

Tsumeb het met 22-7 die oorhand teen Farmstyle Elnatan gekry. Die besoekers se kaptein en agtsteman Russel Bartlett asook Emile Kuhn het elk twee drieë gedruk, terwyl Pedri Lacante een keer verdoel het.Elnatan se enigste antwoord was flank Bootje Booysen se drie en losskakel Janco Esterhuizen se doelskop.

• In die vriendskaplike interhoërwedstryd op Swakopmund het die besoekers Namib Diesel Walvisbaai Privaatskool met 17-7 die hoop van Inspares Pro-Ed Akademie verydel. Die wenspan was rustyd met 7-0 voor.