Agtsteman van Whk Gim lei nasionale skolespan

Skolerugby
Die Akademieweek in Middelburg, Mpumalanga, sal waarskynlik die hoogtepunt van die jaar vir die nasionale o.18-skolespan wees.
Andrew Poolman
Die agtsteman van King Price Windhoek Gimnasium se eerstespan, Vincent Scholtz, is as die Namibiese skolekaptein aangewys vir die komende deelname aan die Suid-Afrikaanse o.18 Akademieweek.

Uit die aanvanklike oefengroep is die 23 spelers ná ‘n onlangse driedaagse oefenkamp aangewys.

Die o.18 Cravenweek (sedert 2018 sonder Namibië) en die o.18 Akademieweek word vanjaar beide vanaf 7 tot 12 Julie by die Hoërskool Middelburg in Mpumalanga aangebied – met laasgenoemde toernooi wat sedert Namibië se weglating uit die Cravenweek die hoogtepunt van die rugbyjaar vir die nasionale o.18-skolespan is.

Scholtz en sy manne is geloot om op die eerste wedstryddag teen die Valke opgeweeg te word.

Die Namibiese groep bevat sewe spelers wat van verlede jaar se o.18 Akademieweekspan in Johannesburg oorgebly het, terwyl van die jonger spanlede blootstelling by die o.16 Grant Khomo-week gekry het.

Namibië o.18-span 2025 (oorblywende 2024-spelers met * aangedui)

Voorspelers: * Russel Bartlett (Tsumeb Gim slot of agtsteman), Cashton Cloete (WHS stut), Jayvin du Plessis (Whk Gim, haker), * Rudolph Harmse (Whk Gim stut), Isaiah Kazondovi (WHS slot), Keyo Kruger (Privaatskool Moria flank/slot), JC Labuschagne (Pro-Ed Akademie flank), Buhlem Oelofsen (Whk Gim slot), Gert Pretorius (Whk Gim stut), Vincent Scholtz (kaptein, Whk Gim agtsteman), * Pieter-Jan Strydom (WHS losvoorspeler), * Jurick van der Berg (Tsumeb Gim stut), * Tiaan van der Westhuizen (Walvisbaai PS haker).

Agterspelers: * William Beukes (WHS heelagter), Ruan Brand (Privaatskool Moria vleuel/heelagter), Alvandro Diergaardt (Pro-Ed Akademie vleuel), Franko Engelbrecht (Privaatskool Moria senter, vleuel of heelagter), FJ Fourie (Tsumeb Gim heelagter/senter), JD Jankowitz (Whk Gim senter), Dirkie Lochner (Keetmanshoop PS skrumskakel), Durand Louw (Privaatskool Moria skrumskakel), * Ethan Sinden (WHS senter/vleuel), Mc-Rein van Wyk (WHS losskakel).

Afrigters: Herman Grobler (Privaatskool Moria, hoofafrigter) en Devano Alcock (WHS). Spanbestuurder: Rialdo van Wyk (M&K Gertze HS).

Die Namibiese Hoërskolerugbyvereniging (NSSR) sal na verwagting ook spanne na die o.16 Grant Khomo-week (30 Junie tot 4 Julie in Pretoria), die o.16 Rhino-week asook die o.18 Rhino-week (beide in Vereeniging) stuur, hoewel dit nog nie aan die media beskikbaar gestel is nie.

Die laerskolespan is ook reeds in die media aangekondig wat Namibië by die o.13 Cravenweek (29 Junie tot 4 Julie in Oos-Londen) sal verteenwoordig.