Affies wen nasionale o.13-finaal met laaste beweging
‘n Wendrie in die laaste sekondes was Saterdag nodig vir Windhoek Afrikaanse Privaatskool om die nasionale o.13 Superliga, geborg deur Cirrus, teen Windhoek Gimnasium te beklink.
WAP, ook die verdedigende titelhouer van 2025, is by die FNB WHS Vegkop-stadion teen Windhoek Gimnasium opgeweeg, wat reeds vroeër in die seisoen in ‘n ligawedstryd teen WAP gewen het.
Onverdoelde drieë deur heelagter FJ Visser en senter Luke Burgess het Affies op die telbord geplaas, maar in die laaste minute het Windhoek Gimnasium met 12-10 die voortou geneem.
Soos tevore in die seisoen het Affies se losskakel Erich Janse van Vuuren dit op die belangrike oomblik reggekry om deur die verdediging te sny en die wendrie te gaan druk om ‘n uiters opwindende wedstryd te beklink.
Charl Jacobs, hoofafrigter van WAP se o.13-span, sê die afrigterskorps se besluit om die o.12- en o.13-groep gesamentlik vir die o.13-liga te mobiliseer, het vrugte afgewerp. “Die o.12’s wat oorbly en wat volgende jaar o.13 kan speel, is goed opgewasse en voorbereid vir die taak en ek kan nie wag om te sien hoe hulle gaan vaar nie.
“Die spangees was fenomenaal en spelers wat nie in die wedstrydgroep betrokke sou wees nie, was steeds op die oefenveld om die span met opposisie behoorlik te help voorberei.
“Die seisoen het harde werk vereis en het ons emosies gereeld op en af gebring, maar ons is trots dat die seuns nooit moed opgegee het nie en gewys het waartoe hulle in staat is.”
Windhoek Affies se o.13-wenspan was: 15 FJ Visser, 14 Andre Bodenstein, 13 Luke Burgess, 12 Philip Meyer (kaptein), 11 Hanjo Wynjeterp, 10 Erich Janse van Vuuren, 9 Dawid de Wet, 8 Ruan Janse van Rensburg, 7 Coena de Villiers, 6 Juvan Scholtz, 5 Naude Thomas, 4 Nicolaas Hoffmann, 3 Sion van Wyk, 2 Gerhard Meyer, 1 Ben Kotze. Op die reserwebank was Raymond Ellis, Waldo Baltes, Acher Kotze, Divan van Niekerk, Alberto Engelbrecht, Christiaan Greeff, Rudie de Bruin en Sean-Carter Furter.
O.13 reserweligafinaal
Die reserweliga-eindstryd tussen DHL Suiderhof en Parkies het ewe opwindende aksie opgelewer. Parkies het die telling geopen, waarna DHL Suiderhof onmiddellik teruggeslaan het met ’n drie deur hul kaptein en losskakel, Anthony Bock.
Vir die grootste gedeelte van die wedstryd was dit DHL Suiderhof wat die spel beheer het en met hul opwindende styl van hardlooprugby die telbord aan die rol gehou het.
Anthony Bock het die oorwinning vir DHL Suiderhof verseël met ’n briljante skepskop in die laaste sekondes van die wedstryd – ‘n vaardigheid wat ’n mens nie aldag op laerskoolvlak sien nie.
Die uitslae
O.11 B-ligafinaal: Parkies klop Walvisbaai Gimnasium 12-5.
O.13 reserweligafinaal: Suiderhof klop Parkies 43-12.
O.11 A-ligafinaal: Windhoek Gimnasium klop Windhoek Affies 24-14.
O.12 A-ligafinaal: Windhoek Gimnasium klop Suiderhof 27-10.
O.13 Superligafinaal: Windhoek Affies klop Windhoek Gimnasium 15-12.
Aanskoulike wedstryde
Mauritz Thirion, voorsitter van Namibiese laerskolerugby, sê dit was ‘n aksiebelaaide dag van kaalvoetrugby, en ‘n voorreg vir die betrokke spanne om in die FNB WHS Vegkop-stadion te speel.
“Walvisbaai Gimnasium het sy eerste verskyning in ‘n nasionale eindstryd gemaak (o.11 B-liga), maar is uiteindelik deur Parkies geklop.
“Suiderhof het ‘n baie goeie o.12-span wat in hulle finaal opnuut presteer het, terwyl die Superliga-eindstryd tot met die laaste beweging in die weegskaal was. In die geheel was dit van die beste laerskolerugby wat ek in ‘n lang tyd gesien het.
“Cirrus se toetrede as borg het ons vanjaar in staat gestel om spanne met reis- en ander kostes by te staan, byvoorbeeld die spanne van so ver as Oranjemund en die Oshanastreek wat ver afstande moes aflê. Spur het ook geskenkbewyse vir die individuele uitblinkers op die spel geplaas.
Aangename ervaring
Romé Mostert, direkteur by Cirrus, sê die maatskappy wat in sy tiende bestaansjaar in Namibië is, het die geleentheid aangegryp om op die grondvlak van skolerugby se ontwikkeling betrokke te raak.
“Dit was vir ons ‘n goeie ervaring, en aangenaam om van ons ou skoolmaats weer raak te loop wie se kinders nou voor vol pawiljoene en opgewonde ondersteuners speel. Vir die jong seuns lyk die speelveld baie groot, maar hulle leer om in die diepkant in te spring en te laat waai.”



Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article