Wilde woestyn lok wêreld se avonturiers

Uithousport
Deelnemers van meer as twee dosyne lande en van elke vasteland kom takel die Namib Race in die komende week.
Andrew Poolman

Deelnemers van oraloor die wêreld versamel op Swakopmund vir die nuutste weergawe van die Racing The Planet-reeks se Namib Race, wat Sondag wegspring en tot 22 Augustus voortduur.

Die selfondersteunde ultra-afstand van 250 kilometer deur die Namibwoestyn word in ses skofte verdeel, met elke deelnemer wat al hul eie kos, toerusting en uitrusting moet dra, terwyl tente, water en mediese steun wel verskaf word.

Nagenoeg 100 deelnemers word verwag, wat elkeen ‘n standaard inskryfgeld van 4 200 Amerikaanse dollar (bykans N$68 000) moes betaal.

Die Namib-Naukluft Nasionale Park, wat van die wêreld se hoogste sandduine bevat, die surreëele rotsformasies en droë rivierbeddings in die Maanlandskap, die Kuiseb River Canyon en die Skedelkus sal deelnemers opnuut betower voordat die eindpunt in die geskiedkundige vakansiedorp Swakopmund wag.

Vanaf seevlak tot op ‘n hoogte van 1 580 meter bo seespieël sal deelnemers aan die uiteenlopende kontraste van die Namibiese landskappe blootgestel word, en ook.

Een van die twee Namibiërs onder die inskrywings is Elke Slinger van Windhoek, ‘n fiksheidsentoesias wat tevore op Walvisbaai gewoon het en vir die eerste keer deelneem nadat sy by twee vorige Namib Races as ‘n vrywilliger gewerk het.

Die ander is Angela Alchin, wat ook twee keer ‘n vrywilliger was voordat sy in 2024 suksesvol aan die Racing The Planet-reeks se byeenkomste in Mongolië se Gobi-woestyn, Jordanië en Antarktika deelgeneem het. Die komende week se uitdaging is inderdaad reeds haar sewende byeenkoms in die reeks.

Besoekende burgers en inwoners van onder meer Argentinië, Australië, Brasilië, Brittanje, Chinese Taipei, Colombia, Denemarke, Duitsland, Ecuador, Egipte, Frankryk, Hongkong, Italië, Japan, Kanada, Macau, Marokko, Mexiko, Oostenryk, Nieu-Seeland, Noorweë, Pole, Rusland, Singapoer, Spanje, Suid-Afrika, Suid-Korea, Swede en die VSA word by die wegspringstreep verwag.

Vind meer besonderhede, en volg die voorlopers op die roete, by racingtheplanet.com/namibia/live/