Van Heerden bo in Henties Senior Ope

Gholf
Standard Bank het vir die sewende jaar die gesogte Henties Senior Ope toernooi by die gholfklub van Hentiesbaai geborg.

Altesame 39 spelers (van Hentiesbaai, Rössmund, Walvisbaai en klubs uit die sentrale binneland) insluitend drie vrouespelers het vir twee dae hul beste houe uitgehaal.

Net spelers van 55 jaar of ouer kon inskryf.

Die gasheerklub se Des van Heerden, met 73 punte, is as die Standard Bank Henties Senior Ope-kampioen bekroon. Van Heerden het reeds in Vrydag se eerste rondte die meeste punte (39) aangeteken.

Die beste speler van 70 jaar of ouer was Jan van Wyk (62 punte).

In die interne spankompetisie tussen verskillende takke van Standard Bank, waarin die Fanie Augustyn-trofee op die spel was, het die Hentiesbaai-tak met 107 punte as wenner uit die stryd getree teen die spanne van Walvisbaai, Swakopmund en Sentraal.

Janco Gous, die streekbestuurder van Standard Bank, het die prysuitdeling bygewoon en pryse oorhandig.

Die organiseerders bedank elkeen wat in verskillende rolle bygedra het, asook Standard Bank wat die toernooi moontlik maak.