Uithouruiters presteer in RSA

Perdesport
Die Namibiese deelnemers het hulle baie goed van hul taak gekwyt.
Andrew Poolman
Die Namibiese uithouritsport onder die vaandel van Namef (Namibian Equestrian Federation) het weer tydens die onlangse SAIC-kompetisie teen Suid-Afrikaanse ruiters naby die Vrystaatse dorpie Fauresmith hul staal gewys.

Enkele individuele ruiters van die Welwitschia Uithouritklub het in verskillende kategorieë oor die verste kompeterende afstande teen ERASA-ruiters gaan deelneem.

Sanlam Namibia het die ruiterspan finansieel bygestaan om hierdie droom te kon verwesenlik. Namef en Welwitschia-klub bedank hulle vir die ruimhartigheid en ondersteuning.

Die Fauresmith-roetes is alombekend vir die uitdagende en tegnies moeilike oppervlakte en is daarom 'n baan wat 'n ruiter se ruiterskap en sy perd tot die uiterste beproef. Die uitslae getuig opnuut dat die plaaslike ruiters geensins vir die Suid-Afrikaanse eweknieë hoef terug te staan nie.

Die afstande was 160 km op die Donderdag, voor die 119.9 km kompetisie op die Saterdag.

Die Namibiërs wat plekke in die top-10 behaal het:

119.9 km kinderruiter: eerste plek, Melieke Steyl met Lormar Fascination (ses ure 06 minute 42 sekondes), wen ook die prys vir Bes Voorbereide Perd in dié klas.

119.9 km jong ruiter: derde plek, Milan Steyl met Wiejandie Palladin (6:04:29).

119.9 km liggewig: Tweede plek, Suné Swart met Kalharabi Sniper, 5:16:56 en ook die prys as Bes Voorbereide Perd. Sy het ook vanoor al die kategoriee die algeheel tweede beste tyd van die dag opgestel. Sesde plek, Agies Mohale met El Sham Adan, tyd 5:23:43.

Ander 119.9 km standaardgewig ruiters wat suksesvol klaargemaak het, was Tiffany van Zyl met Kalharabi Laddin, Marna Steyl met Wiejandie Gerain, Maya Janbey met El Shakir Shazam en Carmen Derks met Langasem Jumanji.

Oor 160 km – die elite afstand van die uithouritsport – het Suné Swart eerste in die liggewigklas met Kalharabi Novak in agt ure 38 minute 05 sekondes klaargemaak, wat die algehele tweede beste tyd van die dag was.

Die rit was 'n baie leersame ondervinding wat ruiters die geleentheid gegee het om hul ruiterskap en hul perde tydens internasionale deelname teen die beste in Suid-Afrika te beproef.

Die ruiters is dankbaar teenoor Namef wat die uithouritsportkode se standaard op 'n internasionale peil handhaaf sodat ruiters op die hoogste vlak kan meeding.