Ross weer die langste aanhouer by Brandberg

UIthousport
'n Nuwe vrouerekord en die meeste inskrywings nóg was hoogtepunte van nog 'n onvergeetlike naweek.
Andrew Poolman
Vir die vierde jaar op ‘n streep was André Ross van Swakopmund tot laaste staande gebly in die Brandberg Backyard Ultra naby Uis, wat met die steun van RMB Namibia deur Namibia Ultra Trials aangebied is.

Die weersomstandighede was moeilik, veral terwyl die wind bykans die hele dag sterk uit die noordooste gewaai het, terwyl die dagtemperatuur soms tot 34 grade Celsius geklim het.

Dit was ‘n rekordgetal inskrywings vir die Brandbeg Backyard Ultra – altesame 61, van wie 55 Saterdagoggend agtuur by die eerste wegspringstreep was.

In die uithousport waarin deelnemers elke uur ‘n baanrondte van 6.7 kilometer te voet voltooi (draf of stap), het Ross 21 ure later in die vroeë oggendure van Sondag as wenner uit die stryd getree nadat hy ‘n totaal van 140.7 km afgelê het.

Ross het verlede jaar tydens die wêreldspankompetisie die nasionale rekord tot 26 rondtes opgestoot (174.2 km).

Die manswenner is die hardste gedruk deur sy landgenoot Erich Goeieman asook die vrouekampioen, Kim Sonntag van Suid-Afrika, wat beide vir 20 uitmergelende rondtes uitgehou het (134 km).

Sonntag het die byeenkoms se vrouerekord van 16 rondtes oortref wat Corné Verwey verlede jaar by Uis opgestel het.

In die algehele vierde, vyfde en sesde posisies was die Namibiërs Harmen Potgieter (18 rondtes; 120.6 km), Buks Gous (17 rondtes; 113.9 km) en Donatus Aihuki (16 rondtes; 107.2 km).

Fraser Shand, ‘n Nieu-Seelander wat in Australië woon, het vir 15 rondtes (100.5 km) vasgebyt, terwyl die vrouenaaswenner Danielle Zimny van Namibië vir 14 rondtes (93.8 km) aangehou het.

Riana Scholtz van Namibia Ultra Trials sê: “Dit was bitter tawwe toestande; ons drawwers was baie moedig!

"Die ondersteuning was deurentyd wonderlik. ‘n Klomp kinders het lekker geswem of deelgeneem aan die skattejag en teikenskiet terwyl ma of pa gehardloop het.”