NIIHA-spanne dra landstrots na Paraguay

Inlynhokkie
Die komende toernooi word as die wêreldkampioenskap van inlynhokkie erken.
Andrew Poolman

Die Namibiese Ys- en Inlynhokkievereniging (NIIHA) is opgewonde oor die vooruitsigte van sy deelname aan die World Skate Games wat vanaf 02 tot 18 Oktober in Asunción, die hoofstad van Paraguay, aangebied word.

Die nasionale junior mansspan en die nasionale senior vrouespan het reeds na Suid-Amerika vertrek, terwyl die senior mansspan se toernooi ook later voorlê.

Die komende wêreldtoernooi is ‘n samekoms van oraloor in ‘n verskeidenheid sportkodes insluitend variasies van inlynhokkie, skaatsplankry, rolskaatsry.

Die verkose Namibiese spanne se vertrek is een van NIIHA se grootste geleenthede sedert die reuse-prestasie verlede jaar, toe die Namibiese senior mansspan die bronsmedalje by die Wêreldspele in Chengdu, China, verower het.

Die onderskeie oefengroepe het dus die afgelope maande reeds verskeie maande van harde oefening, vroeë oggende en opofferings agter die blad.

Nadia Schmidt, die nasionale hoofafrigter, is as ‘n speler in die senior vrouespan ingesluit. Om dié rede is Dave Hammond as afrigter van die senior vrouespan betrek. Imanol Cárcamo, ‘n Spaanse speler wat op Otjiwarongo by die Scorpions-klub afrig, is ook as hulpafrigter betrokke, asook die spanbestuurder Trish Hammond.

Die Namibiese spanne se loting vir die toernooi is soos volg:

Senior vroue – in Groep A geplaas saam met Chili en die VSA (hul eerste opponente, beide komende Saterdag), Mexiko (5 Oktober) en Brasilië (6 Oktober).

Junior mans – in Groep B geplaas saam met Spanje (3 Oktober), die VSA (4 Oktober), Tsjeggië (5 Oktober) en Chinese Taipei (6 Oktober).

Senior mans – in Groep A geplaas saam met Slowakye (openingswedstryd op 11 Oktober), die VSA, Switserland en Frankryk.

Die Namibiese toerspanne:

Junior mans:

Abe van der Merwe (kaptein, Badgers), Hadrian du Toit (Badgers), Konrad du Toit (Badgers), Lucca de Azevedo (DTS Kamikaze), Max Ihms (DTS Kamikaze), Nicolai Bates (DTS Kamikaze), Richard Gregory (Coastal Pirates), Rigo Hellmich (Badgers), Sascha Guttzeit (onderkaptein, DTS Kamikaze), Taneka Shilongo (DTS Kamikaze), Vigo Bajorat (onderkaptein, DTS Kamikaze), Vicent Scholtz (DTS Kamikaze), Waldemar von Lieres (DTS Kamikaze).

Senior vroue:

Christine Röttcher (kaptein, Coastal Pirates), Christine Gerber (DTS Kamikaze), Danielle Dobberstein (onderkaptein, Badgers), Franka Wölbling (Scorpions), Lana Bajorat (DTS Kamikaze), Leighzené Coetzee (onderkaptein, Coastal Pirates), Mara Scholz (DTS Kamikaze), Michelle Wirtz (DTS Kamikaze), Nadia Schmidt (Badgers), Vaike Wölbling (Scorpions).

Wedstryde sal regstreeks op www.worldskate.tv/ gebeeldsend word.