Nasionale kampioene in draf- en fietsskofte bepaal
Duathlon
Die fiksste meerkampatlete takel mekaar Sondag om die hoogste louere.
Die nasionale duathlonkampioenskap van die Namibiese Triathlonfederasie (NTF) vind komende Sondagoggend aan die suidelike buitewyke van die hoofstad plaas.Gedugte mededingers soos Petrus Human, Anri Greeff, Nathan Chase, Matt-Reece Izaaks en Maja Brinkmann is van die voorste aanspraakmakers wat geklop moet word.
Die NTF het vanjaar 'n winterreeks aangebied wat uit vier kompetisies bestaan, insluitend die nasionale kampioenskap op 17 Augustus. Slegs die Sprint- en Super Sprint-afstande is in die winterreeks gebruik.
Die reeks, aangedryf deur Prosperity Health, het op 18 Mei met 'n knal afgeskop. Dit is gevolg deur byeenkomste op 15 Junie en 20 Julie in die hoofstad.
Atlete sal by die nasionale kampioenskap in die kategorieë Super Sprint, Sprint en standaard duathlon meeding, in verskeie ouderdomsklasse. Die Super Sprint bestaan uit twee en 'n half kilometer hardloop, 10 km fietsry en sluit af met 'n 1.25 km hardloop. Atlete van 12 tot 13 jaar en 14 tot 15 jaar kom in aanmerking vir hierdie kategorie.
Die Sprint-afstand vir juniors (16 tot 19 jaar) bied aan deelnemers 'n strawwe 5 km hardloop, 20 km fietsryskof en 2.5 km hardloop.
Die hoofkompetisie, die standaard-duathlon, is 'n uitdagende 10 km hardloop, 40 km fietsry en 5 km hardloop. Dié kategorie bestaan uit verskeie ouderdomsgroepe waar vroue en mans hul staal kan wys.
Om vir die nasionale kampioenskap in aanmerking te kom, moet atlete opbetaalde lede van die Namibiese Triathlonfederasie wees. Deelname aan die pretitems (10 km, 5 km of 2.5 km) kos N$50 per persoon.
Registrasie sal vanaf 07:00 by die A1-brug op die nuwe A1-hoofweg wees wat na Rehoboth lei (steeds gesluit vir verkeer). Oorgang open om 07:30. Die standaard duathlon en 10 km pretloop begin om 08:05.
Die Sprint-duathlon en 5 km pretloop begin om 09:00, terwyl die Super Sprint afstand en 2.5 km pretloop om 09:05 begin.
Twee afsonderlike prysuitdelingseremonies sal Sondag gehou word. Die verskillende reekswenners in die Sprint en Super Sprint sal vereer word, terwyl die nasionale kampioene ook bekroon sal word.
Electro Boost, Hydroweld Trading en Lumber City het ook die Winterreeks ondersteun.
Die Winterreeks se voorlopers ná drie byeenkomste:
SPRINT-AFSTAND
Mans 20-29 jaar: Tristan Mouton (75 punte), Katjerungu Tjiunotjina (62), Armando van Wyk (22).
Vroue 20-29 jaar: Jivanka Kruger (50 punte), Bronwyn Heigan (22), Angelique Bock (22).
Mans 30-39 jaar: Petrus Human (75), Andries Bester (37), Mateus Angula (22).
Vroue 30-39 jaar: Marcelle Eloff (65), Anri Greeff (50), Surina de Wit (44).
Mans 40-49 jaar: Johan du Plessis (66), Mark Spaeth (57), Anthony Abrahams (55).
Vroue 40-49 jaar: Marion Schonecke (50), Benita Windisch (47), Hilke Kruger (38).
Mans 50-59 jaar: Philipp Sonntag (47), James Cutts (40), Scott Richards (25).
Mans 60 en ouer: Roelof Pahl (25), Harald Preschel (22).
Vroue 60 en ouer: Karin Brockmann (50), Berrit Graf (44).
Seuns 16-19 jaar: James Langford (66), Ethan Brinkmann (25), Matt-Reece Izaaks (25).
Meisies 16-19 jaar: Maja Brinkmann (25).
SUPER SPRINT-AFSTAND
Seuns 12-15 jaar: Stefan Kruger (70 punte), Aiden Diehl (57), Marchel Diehl (45).
Meisies 12-15 jaar: Roselyn Mbathera (60), Kyra Marschall (50), Lillian Marschall (44).
– [email protected]
Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article