Napso versamel goue medaljes by Rhino-week
Skolesport
Vyf goue medaljes en een silwer was maar net die begin van die Namibiërs se suksesverhaal.
Ná deelname met ses spanne was die oes vyf goue medaljes, een silwer, talle individuele toekennings én internasionale keurings – die puik prestasie van die Napso Wintersport-toerspan, wat van 8 tot 12 Julie die prestigeryke Rhino Week-toernooi in Vanderbijlpark, Suid-Afrika, bygewoon het.Dié toernooi, aangebied deur Prestige Youth Sport, het vanjaar spanne van oraloor Suidelike Afrika gelok en Napso (Namibiese Privaatskole-organisasie) het gewys dat sy jong talent beslis nie terugstaan nie.
Nie minder nie as vyf Napso-spanne het die kampioenskaptitels by die Rhino-week verower, naamlik: Netbal o.13 / Rugby o.13 / Rugby o.19 / O.19-meisieshokkie / O.19-seunshokkie.
Presterende spanne
Netbal o.13 het met selfvertroue 'n klinkende oorwinning met 28-21 teen die Tigers behaal wat hul plek boaan die podium verseker het. Die jong span se oorwinning was op knap tegniese spel gebaseer, maar was ook 'n toonbeeld van hul spanwerk en deursettingsvermoë.
• Die o.19-netbalspan het hul pad tot in die finaal oopgespeel, waar hulle moedig teen die Stormbreakers te staan gekom het. Al het die wedstryd met 'n telling van 22-56 teen hulle gedraai, het die span steeds met die silwermedalje huis toe gekeer; ’n prestasie om op trots te wees.
• Op die rugbyveld het Napso se o.13-span gewys wat in hulle steek. In 'n eenrigtingstryd het hulle die Fezeli Dobi Raptors met 33-0 oorskadu en hul status as kampioene bevestig.
• Die o.19-rugbyspan was eweneens onstuitbaar en het die Cobra Uitnodigingspan in die beslissende wedstryd met 26-12 geklop.
• Ook op die astro-hokkiebaan het Napso uitgestaan. Die o.19-meisies het die Vaal Tigers met 1-0 in ’n taai taktiese stryd getroef, terwyl die o.19 seuns hul wedstryd teen Noord-Vrystaat oortuigend met 4-0 gewen het.
Keuring vir internasionale toere
Ses Napso-netbalspelers is gekies vir die Top 40-span wat later vanjaar na Thailand sal toer, naamlik Elma Kriel en Beani Blaauw (beide Tsumeb Gimnasium), Carli Janse van Rensburg en Kiara de Wee (beide WAP), Kristofina Ashivudhi en Nazneen Stuart (beide Walvisbaai Privaatskool).
• In hokkie is twee meisies en vier seuns gekies om in Desember na Italië te vertrek as deel van ’n internasionale uitnodigingstoer. Die sestal is AJ Bruwer en Christopher Clark (beide Walvisbaai Privaatskool); Desiree Stafford, Suné Malan, Daniel Miller en Christopher Miller (almal Pro-Ed).
Individuele toekennings
Drie spesiale spelers het hul merk gemaak om as individuele uitblinkers uitgesonder te word.
Ben Brassell (Pro-Ed) – Speler van die toernooi, o.19-seunshokkie.
Marlene Coetzee (WAP) – Speler van die toernooi, o.19 meisieshokkie.
Mia Marx (Pro-Ed) – Beste verdediger, netbal o.13.
Agter elke wenspan – rotsvaste leierskap
Van afrigters en spanbestuurders tot kapteins – agter elke suksesvolle span staan ’n toegewyde ondersteuningspan – en Napso se leierskap het nie teleurgestel nie:
Netbal o.19: Kaptein Marlene du Toit, onderkaptein Elma Kriel, afrigter Anna Kriel, spanbestuurder Naomi le Roux.
Netbal o.13: Kaptein Janah King, onderkaptein Nimeesha Stanley, afrigter Emsie Esterhuizen, spanbestuurder Nikita-Mari Puren.
Rugby o.19: Kaptein Jean Devenish, onderkapteins Charl Cilliers (agterspelers) en Pieter Potgieter (voorspelers), afrigter Frans Joubert, spanbestuurder Herman van Zyl.
Rugby o.13: Kaptein Michael Swart, onderkaptein Theo Roussouw, afrigter Hanjo de Klerk, spanbestuurder Jurie Engelbrecht.
Hokkie o.19 meisies: Kaptein Merné Wiese, onderkapteins Annelou Fouché en Suné Malan, afrigter Rohan Slabbert, spanbestuurder Ruan Oosthuizen.
Hokkie o.19 seuns: Kaptein Christo Smit, onderkaptein Benji de Wet, afrigter Nico Brand, spanbestuurder Cari Kotze.
• Met soveel talent en deursettingsvermoë is dit duidelik: Napso se jong sportsterre is gereed om nie net nasionaal nie, maar ook internasionaal hul stempel af te druk. Die 2025 Rhino-week sal beslis vir altyd in hul geheue bly.
Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article